Babas verban uit A380-eersteklas
2011-06-30 11:01
Kaapstad – Malaysia Airlines sal nie babas in eersteklas toelaat op sy A380-vliegtuie nie, met talle passasiers wat kla dat kinders te lawaaierig is.
Die lugredery het in 2004 kinderbedjies verban uit sy Boeing 747’s se eersteklas en het aangevoer dat dieselfde beleid gevolg gaan word wanneer hulle volgende jaar ‘n nuwe vloot Airbus A380’s kry.
“Ons laat nie babas in eersteklas toe nie, of hulle nou hul eie sitplek het of op iemand se skoot sit. Ons verloor bietjie geld, maar baie mense het gekla,” het uitvoerende hoof Tengku Azmil Zahruddin Woensdag op Twitter gesê.
Die besluit het tot groot debatte op die internet gelei, terwyl Malaysia Airlines gereedmaak om die eerste van ses A380’s, die grootste passasiersvliegtuig in die wêreld, te ontvang.
“Soos ek vroeër gesê het, dit is ‘n moeilike besluit. Daar sal ongelukkige passasiers wees, maak nie saak wat ons besluit nie,” het Azmil getweet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP