Avonturiers wil rekord in Antarktika breek
2011-11-03 10:37
Kaapstad – Een honderd jaar nadat Roald Amundsen en sy span die eerste mense was om die Suidpool te bereik, beplan twee Belgiese mans om ‘n soortgelyke uitdaging te takel.
Wanneer ek Dixie Dansercoer, 49, en Sam Deltour, 26, vroegoggend in Kaapstad ontmoet, is hulle glad nie wat ek verwag het nie.
Dié ongewone paar is so plat op die aarde dat hulle onmiddellik soos ou vriende voel wanneer ons begin gesels.
Maar die tog wat hulle wil aanpak is genoeg om die braafste avonturiers twee keer te laat dink. Met die Antarctic ICE-ekspedisie beplan hulle om die langste outonome ekspedisie wat nog ooit in Antarktika gedoen is, aan te pak.
Dixie en Sam sal dié tog van 'n volle 6 000 km in 100 dae probeer aflê deur slegs gebruik te maak van spesiaal ontwerpte sleë, vlieërs en die wind in hul rug – wat die ekspedisie 100% groen sal maak.

Foto: verskaf
Waar het hierdie droom ontstaan?
Dixie vertel hoe sy avontuurlustige gees in 1994 wakker gemaak is toe hy saam met ‘n vriend in die Himalaja-berge gestap het. Dit was bloot die begin van talle ekspedisies wat hy sedertdien op sy lang lys van prestasies en uitdagings kan plaas.
Vir Sam is dit ‘n 14 jaar lange droom wat bewaarheid word. Op die ouderdom van 12 het hy begin om boeke oor die Noord- en Suidpool te lees en die eerste boek het gehandel oor Roald Amundsen se reis na Antarktika.
Op 14-jarige ouderdom het hy gedink hoe wonderlik dit sal wees om 100 jaar later self na Antarktika te gaan en op ‘n ongelooflike manier het dié nederige mediese student en Dixie, ‘n getroude pa van vier, se paaie gekruis om ‘n droom ‘n werklikheid te maak.
Voorbereiding
Beide Sam en Dixie lyk heel kalm en dit is duidelik dat hulle sielkundig goed voorberei is vir wat voorlê.
“Tydens die voorberidingsfase moet ‘n mens baie meer in die sielkundige kant insit. Jy moet sterk wees en goed eet, maar die grysstof is die onbekende terrein. Daar is altyd die onbekende van dag 50, dag 60,” verduidelik Dixie.
Die twee sal ‘n gemiddeld van 60 tot 70 km ‘n dag moet aflê in temperature wat wissel tussen -25 en -30 °C.

Foto: verskaf
Navorsing
Dixie en Sam sal tydens die ekspedisie die impak van katabatiese winde op die wêreld se klimaat bestudeer.
Hulle sal klein Kestrel-“weerstasies” gebruik om vas te stel hoe hierdie katabatiese winde sirkuleer. Hierdie toestelle sal in die aande op hoogtes van 10 m, 40 m, 100 m en 200 m aan hul vlieërs vasgemaak word.
Data rakende windsterkte, -rigting, humiditeit en temperatuur sal dan elke oggend deurgestuur word na 'n sentrum in Brussel.
Katabatiese winde dra digte lug van hoër gebiede teen hellings af as gevolg van swaartekrag. Dié winde kan teen die spoed van orkane teen hellings af beweeg.
Wat as daar nie wind is nie?
Daar is vir hulle gesê dat hulle altyd die wind in hul rug sal hê, maar niemand kan dit verseker nie en hulle maak ook deur hul toerusting voorsiening hiervoor.
Met hul grootse vlieër, wat 50 vierkante meter groot is, kan hulle hoër op beweeg en turbulensie-winde vang. Hoe hoër jy beweeg, hoe meer wind is daar, verduidelik hulle.
Grootste uitdagings
Die paar se grootste uitdaging, sê Sam, is afstand. Hy het al talle hondeslee-wedrenne voltooi en gewen en die verste daarvan was 1 000 km.
Vir Dixie is dit die gewig van die projek. “Om jouself aan die projek toe te vertrou. Om aan ‘n plan lewe te gee wat nog nooit vantevore uitgevoer is nie. Om dit te waag om in die onbekende in te gaan, want ons weet nie regtig hoe dit gaan wees nie.”
“Maar dit is die ruggraat van hedendaagse avonture. As jy nie dit kan aanvaar nie is jy op die verkeerde plek,” sê Dixie.
Dixie en Sam vertrek Donderdag van Kaapstad na die Russiese basiskamp, waarna hulle met die groot ekspedisie sal begin.
‘n Honderd dae, afgesonder in ‘n verlate deel van die wêreld is beslis is reuse-uitdaging, maar dié twee manne is reg.
“Dit is verrykend. Daar vind jy die leegheid wat jy nie meer hier vind nie. Hier is altyd klanke om jou en jy kan dit nie wegjaag nie. Daar is iets te vinde in daardie leegheid,” se Dixie – en dis duidelik dat hy weet waarvan hy praat.

Roete-kaart van die ekspedisie.
– Besoek die webwerf
– Volg die ekspedisie op Facebook