Avonturier vertel van Noordpool-ontberings
2011-08-08 09:11
Kaapstad – Om na die Noordpool te gaan was van kindsbeen af een van die avonturier en omgewingsaktivis Sebastian Copeland se grootste drome.
Dié droom het uiteindelik in 2009 ‘n realiteit geword, toe hy ‘n geleentheid aangegryp het om nie net na die Noordpool te reis nie, maar om ook vas te stel hoe die toestand van die Noordpool ‘n honderd jaar gelede vergelyk met wat dit vandag is.
Dié ekspedisie was egter nie sy eerste nie. Sebastian het voorheen aktiwiteite soos bergklim gedoen, en het ekspedisies na die pool-streke meegemaak voor hy die Noordpool besoek het.
“Die Noordpool word as een van die uitdagendste ekspedisies beskou en is ook een van die moeilikste ekspedisies om mee te maak. Ek dink dit is een van die grootste prestasies, en beslis een van die opwindendste,” het hy gesê.
Sebastian moes vir sowat 35 dae in uiterse koue temperature funksioneer. Al wat hy in die omstandighede kon doen, sê hy, was om een voet voor die ander te sit en aan te gaan.
“Jy gaan amper in ‘n soort van ‘n meditasie in omdat daar regtig niks anders is om te doen behalwe om te loop totdat jy die eindpunt bereik nie.”

Sebastian reken een van die dinge wat maak dat die Noordpool as bestemming uitstaan bo plekke soos Antarktika en Groenland is dat dit ‘n mens nie baie opsies gee as jy eers daar is nie.
“Redding is nie seker nie en as jy eers daar is, kan jy nie teruggaan of oorgee nie.”
Hy het met digitale kameras die avontuur vasgevang en ‘n DVD, Into the Cold: A Journey of the Soul, is op Aardedag vanjaar vrygestel.
Sebastian het vanuit Los Angeles, Amerika met Nuus24 oor dié avontuur gepraat.
Hoe het dit gevoel om oor die verskillende tydsones by die Noordpool te loop?
Dit was natuurlik baie bevredigend toe ons daar aangekom het. Dit is ironies ook want die Noordpool, anders as die Suidpool, is ‘n statiese geografiese punt op die bodem van die oseaan en alles bo dit is gevries.
Jy loop op ‘n relatiewe dik stuk ys en die ys dryf en beweeg op die genade van strome en wind en getye. So wanneer jou GPS-punte uiteindelik vir jou daardie punt gee wanneer jy op N90.00.000 staan, beleef jy dit net vir ‘n baie kort oomblik. Dit begin byna dadelik weer wegbeweeg.
So dit is interessant, want aan die een kant is jy net vir ‘n kort tydjie daar, maar aan die ander kant is dit vir daardie oomblik joune en niemand anders s’n nie.
Was dit meer of minder uitdagend as wat jy verwag het?
Ek dink nie enigiets kan jou voorberei vir die skok waardeur jy gaan wanneer jy op die ys in die Noordpool land nie.
Jy word deur uiterse koue temperature in die gesig gestaar en dit is baie vogtig. Die koue dring ook deur op maniere wat jy op geen ander plek sal beleef nie. Dit trek tot in jou bene in.
Die eerste paar dae in die Noordpool en die hele proses om met die reis te begin, is regtig ‘n groot skok vir jou gestel. Dit neem ‘n paar dae om aan te pas.
Die bagasie wat jy moet dra, soos brandstof en kos, maak beslis ook die eerste paar dae moeilik en jy begin dink dat jy nooit by die uitpunt gaan uitkom nie.

Watter effek het die reis op jou geestes- en fisieke toestand gehad?
Op ‘n fisieke vlak is daar grootskaalse gewigsverlies. Die Noordpool, net op grond van die hoeveelheid tyd wat jy in die koue moet loop, verbrand ‘n aansienlike hoeveelheid kalorieë. Daar is net geen manier wat jy soveel kalorieë kan inneem as wat jy verbrand nie.
Jy reis in baie erge koue en trek ‘n groot vrag saam, so in wese is dit soos om ‘n marathon vir 30 na 40 dae te hardloop.
En dan is daar die beserings. Die punt van my neus het teen die einde van die reis gevries en die koue het die vel rondom my oë ook gebrand.
Wat jy oor die algemeen moet doen is net om vorentoe te beweeg en een voet voor die ander neer te sit.
In teenstelling met wat blyk te gebeur in 'n stedelike omgewing, waar tyd te vinnig beweeg, is dit andersom in die Noordpool, waar dit voorkom of tyd al hoe stadiger beweeg. Elke kilometer word met moeite afgelê en elke uur voel of dit uitrek in drie of vier ure.
Sal jy ooit wil terugkeer na die Noordpool?
Ek hoop van harte so. Ek het tentatiewe planne om vir ‘n korter reis terug te gaan.
Daar is beslis iets kragtig en verleidelik rondom die Noordpool. Dit is regtig anders as enige ander omgewing. Dit is ryk en visueel baie stimulerend. Dit is onvoorspelbaar en gevaarlik.

Jy gaan glo weer in November terug Antarktika toe?
Ja, ek is besig om vir ‘n ekspedisie na Antarktika voor te berei. Dit sal ‘n herdenking wees van die reis van Robert Scott en Roald Amundsen, wie beide in 1911 die Suidpool bereik het.
Dit is beslis ‘n historiese stap en een waaroor ek baie opgewonde is om deel van te wees.
Ek is nou besig om daarvoor voor te berei en dit gaan baie uitdagend wees. Dit gaan omtrent vir drie maande duur. Ons beplan dit vir tussen 85 en 90 dae en behoort sowat 4 800 km te dek.
Dit gaan baie lank en veeleisend wees, maar ek is seker dit gaan net so opwindend ook wees.
Ek gaan met ‘n vlieërplank ski so dit gaan baie anders wees as die vorige reis na Antarktika, wat per boot afgelê is.
Hierdie keer gaan ek die binnelandse gebiede oorkruis, van die een kus na die ander.
Dink jy om vir omgewingsredes op die ekspedisies te gaan, maak ‘n verskil?
Alles maak ‘n verskil.
As jy daaroor dink, vyf of tien jaar gelede was die idee van klimaatverandering of aardsverwarming abstrak omdat mense nie die gevolge daarvan in hulle eie omgewings kon ervaar nie. Nou, vyf jaar later, is mense meer bewus en dit is bereik deur ‘n verskeidenheid van pogings.
Van die pogings was wetenskaplik, ander polities en dan kry jy individue wat ‘n invloed, of op ‘n kunstige of persoonlike wyse, op die samelewing gehad het.
Die punt is, dit is ‘n baie komplekse saak wat mense die kans gee om afstand daarvan te doen of om afgesny daarvan te voel.
So ek dink dat elke bietjie help om vir mense ‘n idee te gee van wat aangaan buite ons gemaklike omstandighede. Veral wanneer daar soveel afstand tussen die samelewing en die geraakte plekke is en dit moeilik is om na plekke soos Antarktika en die Noordpool te gaan.
My manier van doen is om mense bewus te maak en ook om hulle te inspireer met die verwondering en die mag en die skoonheid van hierdie plekke en om sodoende te probeer om mense in aanraking daarmee te bring.
Dit is beslis nie iets wat jy met een probeerslag gaan regkry nie, maar deur ‘n verskeidenheid pogings wat saam gedoen word, dra dit by tot ‘n sekere mate van bewusmaking en die belangrikheid van die saak.




– Volg Sebastian op Facebook en Twitter.
– Lees Sebastian se blog oor sy avonture.
– Kliek hier vir meer inligting oor Sebastian.
– Volg Nuus24 op Twitter.