Australiese doeane soek nou porno
2010-05-21 12:10
Sydney – Mense wat Australië wil besoek sal nou meer as vuurwapens, wapens of dwelms by doeane moet aanmeld.
Doeanebeamptes hier gaan nou begin vra of besoekers pornografie by hulle het.
Dié addisionele navraag is verlede September voorgestel om verbode items soos kinderpornografie op te spoor voor dit die land binnekom.
Die Australian Sex Party, ‘n groep wat polities reageer op Australië se seksuele behoeftes, kritiseer dié instelling aangesien dit as 'n skending van privaatheid beskou word.
Fiona Patten, president van die groep, meen selfs mense met 'n naakfoto of video van hulself, tydens seks met 'n maat of saam in die bad sal “ja” moet antwoord.
“Is dit regverdig dat beamptes by doeane deur iemand se bagasie gaan en ‘n wettige manstydskrif of ‘n lesbiese joernaal voor hul kinders of hul skoonma’s uitruk?” het sy gevra.
Volgens doeane sal wettige items aan die passasiers terugbesorg word.
Die doel is dat hulle kinderpornografie, bestialiteit, eksplisiete seksuele geweld en grafiese vernedering wil opspoor.
- Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter.