Australië wil hul beeld opknap
2009-08-26 15:00
Sydney – Australië het Woensdag ‘n multi-miljoenrand bod om dié land se beeld op te knap, bekendgestel.
Dié land wil vir meer as net bruin-gebrande lywe in bikinis bekend wees.
Die regering sal tot omtrent R130 miljoen spandeer om Australië as die ideale bestemming vir handel, opvoedkunde en belegging in Asië te bemark.
“Ons is ‘n nasie wat oorloop van kreatiwiteit en innovering, en ons het al 10 Nobelpryse ontvang,” het Simon Crean, handelsminister, gesê.
Hy het bygevoeg dat die regering ‘n fiasko soos die 2006 “Where the Bloody Hell Are You” bemarkingsveldtog ten alle koste sal vermy.
Dié veldtog is in ‘n paar lande as te aanstootlik beskou om uit te saai. Dit was oor die algemeen ‘n groot mislukking, veral in Asië.
Daar was ‘n poging om die 2008 film Australia te gebruik om die land te bemark. Dit was egter ook nie suksesvol nie aangesien die film se kaartjieverkope maar bra swak was.
Tot dusver was die mees suksesvolle bemarkingsveldtog in die 80’s na die film, Crocodile Dundee.
- Reuters