As Kersvader warm kry
2009-12-07 11:49
Simon Williamson
Kaapstad - Wat is 'n tradisionele Kersfees? Vra ‘n Europeër of Noord-Amerikaner en hul beskrywing sal totaal anders van ons s'n wees. Terwyl Suid-Afrikaners probeer om vure aan die brand te kry, hardloop hulle rond en probeer hul vingers ontdooi. En terwyl ons probeer om van die versengende hitte ontslae te raak en in die swembad te baljaar, is hulle besig om ys en sneeu van hul vensters af te krap.

Daar word dikwels gedebatteer oor wat die beste manier is om Kersfees te vier. Is dit beter om oorsee te gaan en die 'tradisionele' wit Kersfees te geniet, of om tuis te bly en 'n paar weke in die son te bak?
Alhoewel ons die hitte kan geniet wat gedurende die feestelike tyd na ons kant toe kom, en diegene uitlag wat die koue moet trotseer, moet ons steeds met sonbrand oor die weg kom.
Dit gebeur dikwels dat ons Suid-Afrikaners die hele vakansie met rooigebrande lywe moet rondloop, maar in Europa, Amerika en Kanada is daar nie sulke probleme nie.

Soms is die warm dae en aande lekker, maar wanneer mens aanhoudend begin sweet en rondrol in die nag, wens mens soms net vir ‘n bietjie verligting.
Daar is baie dinge waarop die Noordelike Halfrond se mense kan trots wees, en een hiervan is hul Glühwein.
Die drankie kan ons nie juis in Suid-Afrika geniet oor Kersfees nie. 'n Vuurwarm drankie van vrugte en wyn klink net nie na so goeie idee op die strand in Durban in Desember nie.
Een ding wat my steeds verbaas is die Kersfeesvader uitrusting. Hoekom is daar steeds mense wat verkies om die uitrusting in die uiterste Suid-Afrikaanse weer aan te trek?
Daar is mense wat dit regkry om hul kalkoen te braai, maar baie families glo steeds in tradisionele maaltye vir hierdie spesiale dag.
Met al die verskillende maniere waarop jy Kersfees kan vier, dink ek steeds ek sal Suid-Afrika nie vir ‘n ander land verruil nie. Om te eet en ‘n vleisie in die son te braai, bly steeds die beste fees vir my.
- GoTravel24