American Airlines-vlieëniers kry iPads
2012-09-17 13:41
Kaapstad – iPads gaan eersdaags in die kajuite van American Airlines-vliegtuie die meeste van die vlieëniers se toerusting vervang.
Die iPad, wat 600 gram weeg, gaan sowat 16 kilogram se toerusting vervang, het eTurbonews berig.
Die lugredery hoop om teen die einde van 2012 al hierdie innoverings te implimenteer en verwag om minstens $1,2 miljoen (sowat R9,9 miljoen) in brandstof te bespaar.
“Ons weet hoeveel brandstof elke vliegtuig verbrand in terme van gewig, so ons kan maklik meet hoeveel brandstof ons sal bespaar,” het kapt David Clark, woordvoerder vir American Airlines, gesê.
Clark het bygevoeg dat hierdie inisiatief nie net geld kan bespaar nie, maar ook baie tyd kan spaar omdat elke vlieënier duisende bladsye inligting het wat gereeld opgedateer moet word.
“Dit neem sowat ‘n uur of ‘n uur en ‘n half om opdaterings te doen en dit moet so drie of vier keer ‘n maand gedoen word.”
Hy het ook gesê hy verstaan dat mense dalk bekommerd kan wees dat die vlieëniers se aandag deur die iPad se speletjies of apps afgetrek kan word.
“Ons is professioneel, ons het reëls wat ons moet volg en ons bemanningslede maak staat op ons professionaliteit. Ons sal self hierdie misdrywe uitwerk en ‘n ogie daarop hou.”
– Volg Nuus24 op Twitter