Al hoe meer toeriste kampeer
2011-12-19 07:36
George – Die Suid-Kaap is steeds ’n gewilde vakansiebestemming, maar aanduidings is dat besoekers die gebied vanjaar vir korter tydperke en waarskynlik later besoek.
Duisende besoekers het reeds die afgelope naweek na die gebied gestroom, maar is dit nie tot oorlopens vol soos ander jare nie.
Belanghebbendes is egter optimisties dat dit ’n goeie seisoen gaan wees en dat besoekertalle sal toeneem nader aan Kersfees.
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van toerisme, het aan Die Burger gesê meer mense het die afgelope Vrydag in die pad geval om vakansie te hou in die Suid-Kaap.
Hy het self Vrydagoggend vroeg van Kaapstad na Knysna gery en en die pad was besig.
“Daar was baie woonwaens op die pad. Dit is duidelik woonwaens en kampering is ’n gewilde wyse van vakansie hou in veral die Suid-Kaap,” het Winde gesê.
Volgens hom is daar minder geld in omloop en die ekonomie groei stadig.
Dit lyk of mense in die verlede oorsee vakansie gehou het en nou eerder na plaaslike bestemmings reis.
Dr. Michele Gratz, munisipale bestuurder van Mosselbaai, het gesê die woonwaparke op die dorp raak nou vol.
“Dit wil voorkom of die seisoen vanjaar later as ander jare is. Dit is moontlik te wyte aan die ekonomie. Mense kom ’n bietjie later en vir korter tydperke.”
Die meeste is Suid-Afrikaners wat kampeer en in selfsorgeenhede tuis gaan.
George se verlies van die sewesrugby speel ’n rol. In die verlede het mense vroeër gekom vir die sewes en dan agtergebly vir vakansie.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa, het gesê dit lyk of dit ’n goeie seisoen gaan wees in dié gebied.
Sedert 10 Desember is daar ’n toename in besoekertalle by Stilbaai. Vrydag het meer as 150 woonwaens by Stilbaai aangekom
Op Witsand is die munisipale oord tot die eerste naweek van Januarie vol bespreek. Die Preekstoeloord by Stilbaai is van 21 Desember tot 2 Januarie vol. Gewoonlik styg die getal mense in die gebied in Desember en Januarie van 50 00 tot 500 00.
Meer Wes-Kapenaars besoek die gebied vanjaar as verlede jaar.
In die gebied is daar drie blouvlagstrande – by Gouritsmond, Lappiesbaaistrand by Stilbaai en by Witsand.
Gerald Becker, bestuurder van die provinsiale paaie-afdeling se George-Oudtshoorn-sentrum, het gister gesê Vrydag was die besigste dag van die langnaweek in die Suid-Kaap.
Na verwagting sal die verkeer Vrydag weer toeneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger