Acsa kyk na veiligheid van bagasie
2011-11-22 11:34
Kaapstad – Die lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het bekendgemaak dat hy maatreëls gaan implementeer om te verseker dat die hantering van bagasie, veral die veiligheid van bagasie, verbeter word.
“Die noodsaaklike element vir die verbetering van die hantering en veiligheid van bagasie is beter samewerking tussen al die betrokke rolspelers; beter gebruik van beskikbare tegnologie om bagasie na te spoor; verbeterde prosessering van bagasie wat moet aanbeweeg na ander bestemmings; en beter opleiding vir personeel wat met die bagasie werk,” het Tebogo Mekgoe, assistent-bedryfshoof van die OR Tambo Lughawe, gesê.
Hy het ook klem geplaas op die belangrikheid om die bagasie-hanteringsproses en -stelsels te verstaan, wat glo kompleks is en verskillende rolspelers met verskeie verantwoordelikhede insluit.
“Om ‘n voorbeeld te noem, OR Tambo Internasionale Lughawe hanteer sowat 27 000 uitgaande bagasiestukke ‘n dag.
“Ons het baie gesofistikeerde toerusting en hoogs opgeleide personeel en ons verbeter samewerking met belanghebbendes.
“Dit is hoekom ons oor die afgelope twee jaar ‘n afname gesien het in probleme met bagasie van 18 per 1 000 passasiers wat in Januarie 2010 vertrek het, tot 10,4 per 1 000 passasiers tans.
Die internasionale gemiddeld vir bagasie wat swak hanteer of vermis word is 12 per 1 000 passasiers.
Die internasionale lugvaartvereniging (IATA) wil dié getal na vier per 1 000 passasiers verminder.
– Lees meer by Tourism Update
– Volg Nuus24 op Twitter