15 Vliegtuie van Kingfisher Airlines gegrond
2011-12-19 18:45
Indië – Vyftien vliegtuie van Kingfisher Airlines is gegrond nadat die lugredery nie hul onderhoudskostes kon betaal nie, het die Economic Times-koerant Maandag berig.
"Die koste daaraan verbonde om die vliegtuie by lughawens regoor die land aan te hou, maak die maatskappy finansieel 'dood'", het een van die uitvoerende hoofde, wie se naam nie genoem is nie, aan die koerant gesê.
Meer as vyftig loodse het ook die lugredery verlede week verlaat.
'n Woordvoerder van die maatskappy wou nie kommentaar lewer oor die vliegtuie wat gegrond is nie, maar het wel gesê hulle het genoeg loodse om hul normale skedule te handhaaf.
Kingfisher het reeds gesny aan van hul roetes wat nie 'n wins maak nie.
Die maatskappy, Indië se derde grootste lugredery, het vroeër vanjaar aangekondig dat sy laekostelugdiens, Kingfisher Red, gaan sluit.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP