Wenke vir 'n besoek aan Nepal
2011-10-18 11:26
Majestueuse sneeu-bedekte bergpieke en dorpies wat ‘n duisend jaar oud is skep die agtergrond van ‘n onvergeetlike avontuur in Nepal.
Een van die beste maniere om die landskap te verken, meen talle avontuurlustige reisigers, is om dit te voet aan te pak.
CNN bied ‘n paar wenke oor hoe om die beste uit jy besoek aan Nepal en die Himalaja te kry.
‘n Reis na Nepal klink dalk uitdagend – en dit is. Jy sal uitgedaag word, maar op die ou einde is dit die moeite werd en jy sal terugkeer huis toe met van die beste herinneringe van jou lewe.
Wees waaksaam in Katmandoe
Kenners waarsku reisigers om versigtig te wees vir individuele portiere en gidse wat jou in Katmandoe op straat nader.
Die kanse is baie goed dat hulle nie versekering het nie, waarsku Mohan Lamsal, algemene sekretaris van Trekking Agencies' Association of Nepal (TAAN).
Maak seker dat jy ‘n gedetailleerde gesprek met jou stapagentskap het om hul professionaliteit te verseker, beklemtoon Lamsal.
Alhoewel mens altyd meer gerus voel as jy jou bespreking vooraf doen, meen ‘n paar meer avontuurlustige kenners dat as jy jou beplanning in Katmandoe doen, dit ‘n gerieflike manier is om die middelman uit te sny.
Weet waartoe jy in staat is
Wees versigtig om nie meer aan te pak as waartoe jy in staat is nie.
Selfs al voel jy heeltemal op jou gemak met die mense en die landskap en dink jy kan die tog op jou eie aanpak – moenie.
Dit is ‘n moet om saam met ten minste een ander reisiger te stap, veral as jy ‘n beginner is, meen die kenners.
Kry jou permit
Die Annapurna-basiskamp sowel as die Everest-basiskamp is in bewaringsareas geleë en jy sal ‘n permit nodig hê om daar in te gaan, sê Barry Wenlock, ‘n inwoner van Katmandoe en ‘n ervare stapper van die Himalaja wat al sedert 1995 toere lei.
Jy kan jou permit kry voordat jy begin of wanneer jy die park binnegaan.
Elke stapper moet ook ‘n Trekkers' Information Management System (TIMS)-permit hê. Dit maak deel uit van ‘n databasis wat besoekers se inligting vir veiligheidsredes stoor.
Wanneer om te besoek
Daar is een vaste reël wanneer jy op ‘n tyd moet besluit om besoek af te lê: vermy die moesonseisoen, van Junie tot Augustus.
Die beste tye om die roetes aan te pak is laat lente (Maart en April) en vroeg tot middel herfs (Oktober en November).
Wees net bewus dat die staproetes in hierdie tye ook op hul besigste is.
Wenlock beveel aan om ‘n week of twee vroeër of later te gaan om die massas te vermy.
– Kry meer besonderhede by CNN
– Volg Nuus24 op Twitter