Londen is wêreld se top-bestemming vir 2012
2012-06-13 14:35
Londen – Die tuiste van hierdie jaar se Olimpiese Spele en die diamant-jubileumvieringe van Brittanje se koningin Elizabeth is ook die wêreld se top-bestemming hierdie jaar, het ‘n indeks getoon wat deur die internasionale kredietkaartmaatskappy MasterCard vrygestel is.
MasterCard se wêreldwye indeks van internasionale bestemmings het getoon dat 16,9 miljoen mense Londen per vliegtuig sal binnestroom, met een miljoen minder vir Parys, wat in die tweede plek geplaas is. New York het die 13de plek behaal met 7,6 miljoen besoekers.
Volgens die indeks sal Londen vir die tweede agtereenvolgende jaar die hoogste internasionale besteding deur besoekers lok, met $21,1 miljoen (R176,6 miljoen), met New York kort op sy hakke met $19,4 miljoen (R162,4 miljoen).
“Londen bied beter waarde vir geld as New York,” het MasterCard Worldwide se globale ekonomiese adviseur, Yuwa Hedrick-Wong, aan Reuters gesê.
Die koningin se diamant-jubileumvieringe het besoekers van oorsee en oor Brittanje heen gelok vir vier dae se vieringe aan die begin van Junie. Die Olimpiese Spele, wat van 27 Julie tot 12 Augustus in en om Londen sal plaasvind sal na verwagting besoekers van oor die wêreld heen lok.
Die gevestigde internasionale bestemming Bangkok, in die derde plek, was die ander groot wenner in die indeks met 12,2 miljoen besoekers wat na verwagting $19,3 miljoen (R162 miljoen) sal spandeer.
Bangkok se voordeel is dat dit ‘n baie verdraagsame kultuur het,” het Hedrick-Wong aan Reuters gesê.
“Dit verduidelik sy gewildheid, veral om Europeërs en Amerikaners te lok. Ek kan nie indink dat Westerse besoekers dieselfde in Maleisië, selfs China, doen nie.”
Die indeks, wat 132 van die wêreld se belangrikste stede insluit, word gebruik as ‘n nuwe manier om globale konnektiwiteit te verstaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters