Kindervriendelike stilhou-plekke op die N2
2011-09-20 09:43
Die N2 kan ’n lang en sieldodende pad raak, veral as jy met ’n paar kleuters in die motor ry.
Op pad na die Tuinroete van die Kaap af is daar egter baie plekke waarop die kinders versot sal wees en wat jou ’n welverdiende ruskans sal gee.
Skop jou skoene uit en loop op die koel, groen gras van een van die talle kindervriendelike parke.
Hier is ’n kort en kragtige lys van dorpies waar jy jou nie hoef te bekommer oor die kleinspan nie.
Grabouw is die hoof dorp van die Elgin-vallei, een van die mees gewilde plaasstreke van Suid-Afrika. Met die prentjiemooi bergreeks wat die dorpie omring, sal die kleinspan voel of hulle vir Heidi kom kuier het.
Dit is hier waar appel- en peer-boere van die land se mooiste vrugte vervaardig en ’n mens kan nie anders nie as om Moeder natuur te waardeer terwyl jy aan ’n glasie sap of wyn teug nie.
Caledon het ’n wêreldbekende blomtuin en reservaat waar kinders kan baljaar. Bewonder saam met hulle die omgewing en gaan vir ’n drie tot vier uur lange stappie.
Verken as gesin geheime paadjies en houtbrûe, grasperke, piekniekhoekies, inheemse bome, bosse en ’n ryk en kleurvolle voëllewe.
Wie weet, dalk is julle gelukkig genoeg om die Kaapse suikervoël raak te sien! ’n Blommeskou word elke jaar in September gehou en sal die kinders se asems wegslaan.
Swellendam is noordoos van die Overberg waar jy kan vergeet van die besige stadslewe en saam met die kinders die kleindorpie-atmosfeer kan geniet. Natuurreservate, die kans om walvisse te voer, wateravonture, is maar net van die aktiwiteite wat jy saam met die jongspan kan geniet.
– Vir nog kindervriendelike stilhouplekke besoek drivesouthafrica
– Volg Nuus24 op Twitter