Disneyland - agter die skerms
2011-10-17 11:39
Kaapstad – Disneyland lyk dalk soos ‘n gewone pretpark, maar daar is ‘n geheime wêreld wat agter die ballonne, kastele en spookasem weggesteek is.
Dit is ‘n plek waar katte in die nag patrolleer, waar Mickey Muis op vreemde plekke versteek is en waar bekendes salig agter toe deure aan Martini’s teug.
Kat-sekuriteit
Dit is nie maklik om Disneyland se gronde silwerskoon en sonder peste te hou nie.
Elke aand, nadat die park sluit, word 200 katte in die park vrygelaat om te help om die rot-populasie onder beheer te hou.
Alhoewel Disney nie kommentaar lewer oor die saak nie, dateer die storie van die katte terug na 1957 toe opknappingswerk aan die Slapende Skone-kasteel gedoen is.
Meer as 100 rondloperkatte het uit die kasteel verskyn en ná talle onsuksesvolle pogings om hulle uit die park te jaag, het Disney besluit om hulle eerder in te span om peste te vang.
Vandag bring hulle hul dae deur in die park se goed versteekte “kat huise”, maar soms kan jy ‘n harige gesiggie êrens sien uitloer.
Versteekte Mickey
Die ronde-oor-embleem van Mickey Muis kan oral in Disneyland gesien word.
Maar Disney se spesiaal opgeleide ontwerpers en ingenieurs het gesorg dat hulle bietjie met die verbeelding speel en het honderde versteekte Mickey Muise oor die park versprei.
Die subtiele simbole is soms moeilik om raak te sien: hulle kan gekamoefleer wees in die argitektuur en die natuur, sowel as in die kleinste besonderhede, soos die blommetjies muurpapier by die noodhulp-stasie en die roesmerke op ‘n skatkis in die Pirates of the Caribbean-rit.
Niemand weet presies hoeveel van hierdie versteekte Mickey’s daar is nie.
Drankies agter geslote deure
Disneyland bedien nie alkohol nie – behalwe as jy ‘n manier kan vind om jou naam op Club 33 se lys te kry.
Die geheime klub, wat weggesteek is agter die Blue Bayou in New Orleans Square, het ‘n beperkte ledetal van slegs 487 en ‘n waglys van ongeveer 14 jaar.
Walt Disney het die klub ontwerp as ‘n eksklusiewe plek om moontlike beleggers te vermaak.
Sedertdien het die eksklusiewe klub, wat uitgerus is met ‘n elegante eetvertrek en eerste klas wynkelder, al Amerikaanse presidente, filmsterre, buitelandse hooggeplaastes en gelukkiges wat die regte mense ken, al deur sy deure sien stap.
Daar word vertel dat Robert Kennedy op 3 Junie 1968 daar geëet het, twee dae voordat hy geskiet is.
– Lees meer by BBC Travel
– Volg Nuus24 op Twitter