Madiba bly ’n vryheidsvegter
2010-02-11 07:57
Wat hy bereik het, sou hy aanvoer, was deur samewerking en met behulp van ’n verskeidenheid ander en in sy geval altyd binne die bepalende konteks van die organisasie waaraan hy behoort.
Hy sou sekerlik wou, hier waar ons nou 20 jaar ná sy vrylating terugkyk en bestek opneem, dat die beoordeling liewer wees oor wat bereik is deur die organisasie waarvan hy in die leierskorps was, en kollektief deur die land en sy mense.
Dit is juis daardie ingesteldheid wat van Nelson Mandela die individu so ’n uitsonderlike leier gemaak het. By hom vind ’n mens tesame met ’n onwrikbare verbintenis tot diensbaarheid aan ander ’n ongekende loutering van ego. Hierdie herdenking van sy vrylating is ’n geleentheid om lesse te leer uit sy leierskap.
Mandela word wyd vereer en bewonder as die groot versoener, die een wat sonder ’n greintjie bitterheid of wraaksugtigheid uit die tronk gestap en sy eertydse vyande en onderdrukkers vergewe het. Uitsonderlik soos hy was as verkondiger van versoening in ’n diep verdeelde samelewing, kan ’n enkelvoudige beklemtoning ook weer ’n karikatuur word, dié van die goedhartige Kersvader-figuur wat versoeningspakkies aan ieder en elk uitdeel sonder oorweging van hoe soet of stout hulle in die verlede was.
Vir my – en my verbintenis met hom was ’n baie korter tydperk as baie ander mense wat met meer gesag kan praat – sal die blywende beeld van Mandela wees dié van die vryheidsvegter, die strewer na geregtigheid.
Die nasionale versoening wat hy so onverskrokke nagestreef het ná sy vrylating was nie in teenstelling met vorige fases in sy politieke lewe nie, maar ’n onskeibare voortsetting daarvan. Mandela, die stigter van Umkhonto en Mandela, die nasionale vredemaker is een en dieselfde vryheidsvegter.
Dit het werklik onverskrokkenheid geverg om daardie versoeningspad te loop; dieselfde soort vreesloosheid waarmee hy die apartheidstaat aangevat en beveg het.
Dit is daardie deurlopendheid in sy lewe wat my op ’n slag laat skryf het: “If pushed to offer a single word that would capture most fully the character of Nelson Mandela, it would be integrity. His is a life in which things cohere, are dynamically integrated to wholeness and whole-someness.”
Niks sonder ANC
En grondliggend aan daardie deurlopendheid was sy verbintenis met die ANC. Die ANC staan vandag voor baie ernstige uitdagings – ek sou selfs sê aan die begin van ’n grondige bestaanskrisis. Die huidige probleme van die ANC kan egter nie enigsins daarvan wegneem dat dit die organisasie is wat aan Suid-Afrika Nelson Mandela gelewer het nie.
Sonder die ANC, het hy dikwels self gesê, sou hy niks wees nie. In daardie stelling van hom is daar natuurlik die gebruiklike beskeidenheid waardeur die aandag van die enkeling verskuif word, maar dit beklemtoon terselfdertyd die vormende rol van gedissiplineerdheid in die ontwikkeling van ’n leier soos Mandela. Die ANC by uitstek was die dissiplinerende en rigtinggewende krag in sy lewe.
Dit is in die ANC waar hy sy geloof in kollektiewe leierskap geleer en ingeskerp het, en sy afkeer van die najaag van posisies om die onthalwe van jouself. Hy het so dikwels verwys na Walter Sisulu as ’n inspirerende voorbeeld van iemand wat groot leiding gegee het, maar altyd teruggestaan het sodat ander posisies kon vul.
Sy sorg vir die organisasie en die groter geheel het hom dan ook onwillig gemaak om op sy gevorderde ouderdom beskikbaar te wees as president van die land. Dit is bekend dat hy geargumenteer het dat ’n land soos ons s’n nie ’n 76-jarige as president kon hê nie.
Nadat hy deur sy organisasie oorreed is, het hy die bekende verklaring gemaak dat hy net vir een termyn sou dien, hoewel hy baie maklik vir ’n tweede kon dien. En hy het daardie onderneming gestand gedoen.
Sein na Afrika
Daardeur het hy ’n baie sterk sein gestuur, ook na die res van ons vasteland, waar lewenslange presidentskappe so ’n groot vloek geword het. Dit is kenmerkend van Mandela se leierskap en lewe dat van sy dade en uitsprake sulke ikoniese afmetings aanneem.
Dit bly staan as herinneringe aan dié wat na hom kom oor hoe ten beste opgetree behoort te word. Hoewel ek nie dink dat Thabo Mbeki ooit oorweeg het om met die Grondwet te peuter om hom ’n verdere termyn as president toe te laat nie, sou die voorbeeld van Mandela swaar oor hom gehang het indien hy dit hoegenaamd sou wou doen. En Jacob Zuma se verklaring voor Polokwane dat hy net een termyn sou dien indien hy as president verkies word, is klaarblyklik ’n poging om die Mandela-mantel om te hang.
Regeer nié uit graf
Ná sy uittrede het Nelson Mandela ’n verdere nastrewenswaardige voorbeeld gestel, en dit bewustelik gedoen, naamlik om nie uit die graf te regeer nie. Ek gebruik daardie uitdrukking opsetlik, want dit was sy woorde. Jare gelede, nog gedurende sy presidentskap, was ons op besoek in ’n Afrika-hoofstad waar ’n groepie oudstaatshoofde hom knaend probeer oorreed het om deel te word van ’n beweging wat ná aftrede nog insette sou kon lewer.
Hy het daardie aand aan my gesê dat hy my opdrag gee om as hy eendag uit die graf sou wou regeer, hom te keer en teen te gaan. Gelukkig was dit nooit vir my nodig om die belofte van daardie aand te probeer nakom nie. Hy het self getrou gebly aan sy onderneming.
Mbeki kon nooit met enige reg kla dat Mandela met daad of woord inmeng in sy regering nie. Die teendeel is eerder waar; hy het keer op keer in toesprake Mbeki aangeprys as die beste president of premier wat Suid-Afrika ooit gehad het.
Ek weet dat sommige kamerade geglo het dat ek vir daardie woorde verantwoordelik was, maar dié is sommer ook dan die geleentheid om weer te bevestig dat dit elke keer woordeliks op aandrang van die oudpresident was. Dit is in die aard van die man om erkenning en aanmoediging te gee.
Sy toetrede tot die MIV/vigs-debat gedurende die Mbeki-presidentskap word dikwels vertolk as inmenging en die opneem van ’n stryd teen Mbeki. Van die politieke sensasie gestroop, is die feit van die saak dat Mandela se openbare toetrede elke keer in oorleg met Mbeki was. Uit Mandela se oogpunt was die kwessie so gewigtig en van soveel nasionale belang dat hy sy stem moes verleen aan ’n veldtog om lewens te probeer red, eerder as wat dit ’n inmenging met regeringsake was.
In daardie tydperk was daar meer persoonlike ontmoetings tussen Mandela en Mbeki as in enige tyd ná Mandela se uittrede. Vir Mandela was dit nie ’n geval van uit die graf regeer nie; eerder een van hand uitsteek en hulp aanbied.
Sy toetrede tot die MIV/vigs-debat en -veldtog illustreer ’n verdere eienskap van Mandela se leierskap. Hy het aktiewe politiek, ook partypolitiek, vaarwel toegeroep, maar sy stem het morele gesag behou. Waar hy gepraat het, soos in daardie geval, was dit met daardie morele gesag. En altyd weer as daardie ou vryheidsvegter – hy wat selfs toe in sy gevorderde ouderdom nie kon stilsit en sien hoe mense ly nie. Hy het MIV/vigs as selfs ’n ernstiger aanslag as apartheid beskryf en daarop gereageer.
Hy het daardie selfde nie-uit-die-graf-regeer-afstand behou ten opsigte van sy organisasie, die ANC. Weer het hy my, dié keer terwyl ons ’n paar dae in Nairobi saamgekuier het, opdrag gegee om te sorg dat hy nie op enige manier homself toelaat om betrokke te raak by die interne twiste wat toe aan die gang was nie. En hy het hom onberispelik daarby gehou, al sou hy ook persoonlike menings gehad het.
Sy voorbeeld bly vir almal
Vandag is hy oud en, soos ’n mens hom moet gun, volg hy nie meer openbare ontwikkelinge met dieselfde toegespitste aandag nie. Daar word deesdae dikwels in die glans van sy glorie gedans. Die statige Madiba-jive, om die dans-metafoor verder te vat, het miskien nou ’n rowwer toi-toi geword, maar niks kan wegneem van die grootsheid van die leier waarmee ons land op so ’n kritieke tydstip geseënd was nie. Sy voorbeeld sal bly vir ons almal. Dis nou vir ons, sal hy sê, om dinge in ons hande te neem en ’n beter land te bou.
* Gerwel was direkteur-generaal in Mandela se presidensie en is voorsitter van die Nelson Mandela-stigting.
- Beeld