‘En hoe gaan dit met jou?’
2010-02-11 07:41
Toe ek vir die eerste keer verby die huis in Soweto loop waar Mandela is, spring ’n groot swart hond teen die draadhek en blaf verwoed. Ek kon sweer die hond het daardie dag net vir wit verslaggewers geblaf.
Dit was 20 jaar gelede op Dinsdag 20 Februarie.
Net meer as ’n week nadat Mandela vuis omhoog, met Winnie aan sy sy, op 11 Februarie uit die tronk gestap het.
Dié Dinsdagmiddag het Beeld se nuusredakteur ’n oproep van die ANC gekry: Kom nou, julle kan ’n onderhoud van 15 minute met Mandela kry.
Beeld se fotograaf en ek is teen ’n hoë spoed Soweto toe. Op pad het die hol kol op my maag al hoe groter geword. Wat vra ek die bekendste man ter wêreld wat ná 27 jaar vry is?
Ek was verniet bekommerd.
Toe ons by huis 8115 in Orlando aankom, het ’n klomp verslaggewers en fotograwe reeds op die sypaadjie gesit en wag. Die meeste van die dagblaaie is genooi vir ’n 15 minute-onderhoud.
Die minute het soos ure gevoel voordat Zwelakhe Sisulu ons kom roep het. Hy het as Mandela se woordvoerder opgetree en is die seun van die ontslape Walter Sisulu, wat Mandela se hegste vriend was. In die bitter klein huis het Zwelakhe ons in die beknopte sitkamer aan Mandela voorgestel.
“And how are you?” was Mandela se eerste woorde in sy diep, welluidende stem. Dit is sy kenmerkende en amper ontwapende manier van groet waarmee hy skoonmakers, presidente en seker ook die koningin van Engeland groet.
Mandela het dadelik in Afrikaans weggeval: “Kyk, my Afrikaans is baie swak en my uitspraak is nog swakker. Ek is baie skaam en sku om Afrikaans te praat.” Hy het Afrikaans in die tronk geleer deur kursusse van st 6 tot matriek te slaag, het hy vertel.
’n Keer in die tronk het hy ’n “pragtige” Afrikaanse toespraak voorberei. Hy het dit aan ’n vriend gelees om sy reaksie te toets.
Dié het gesê: “Jong, jou uitspraak klink soos ’n tokkelossie s’n.” Hy het toe maar Engels gepraat.
Sy gunsteling-skrywer was Dalene Matthee en hy was mal oor Jamie Uys se flieks (wat hy in die tronk gesien het) en Pieter-Dirk Uys. Hy het Beeld se susterkoerant Die Burger gereeld gelees.
“’n Mens kan Suid-Afrika nie volledig verstaan as jy nie toegang tot Afrikaans het nie.”
Twintig jaar later minag sy party Afrikaans.
Die Afrikanervolk het ’n mooi geskiedenis waaruit baie lesse geleer kan word, het hy gesê. Die Afrikaner het ook vir sy vryheid geveg en respek daarmee verwerf.
Ek werk vir ’n koerantgroep wat Mandela deur die jare vir ’n boosaard uitgemaak het. Daar was geen veroordeling, geen verwysing daarna. Hy het met my gepraat asof ek sy gelyke is.
Die 15 minute het ’n halfuur geword toe Zwelakhe die gesprek beëindig het.
Voordat ons geloop het, het Zwelakhe Mandela gevra of hy ’n foto van ons saam met Mandela kan neem. Mandela het geantwoord: “Nee, nee, jy moenie my vra nie. Vra hulle of hulle saam met my op ’n foto wil wees.”
Toe ons uitstap, het ek trots en baie spesiaal gevoel. (Later sou ek agterkom dis deel van die ou man se sjarme, deel van sy opregte omgang met gewone mense).
Eerste weke van vryheid
Mandela wou sy eerste aand op die Kaapse Vlakte slaap, maar weens vrees vir sy veiligheid het hy in emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se woning in Bishopscourt oornag.
Die volgende dag het hy en Winnie Johannesburg toe gevlieg. Duisende mense het by die Orlando-huis saamgedrom en Mandela het sy tweede nag weer in ’n wit woonbuurt – in die noordelike voorstede van Johannesburg – deurgebring.
Die volgende aand was hy uiteindelik in sy Orlando-huis. In sy outobiografie, Long Walk to Freedom, sê hy dit was die eerste keer dat hy werklik in sy hart vry gevoel het. Die huis was baie kleiner as wat hy onthou het.
Volgens die boek Mandela: The Authorised Portrait was dit nogtans ’n moeilike nag vir Mandela. Winnie het die huis teen 22:00 verlaat en eers in die vroeë oggendure teruggekeer. Vandat hy uit die tronk is, het Winnie nooit in sy slaapkamer gegaan terwyl hy nog wakker was nie.
Volgens die boek was sy verhouding met sy kinders ook nie maklik nie. Sy dogter Zindzi het gekla dat sy hom met die res van die wêreld moes deel. Sy seun Makgatho het hom uiters selde besoek en sy dogter Maki het hom net sporadies gesien.
Later het hy saam met Winnie na haar mansion in Diepkloof getrek. Hy het niks daarvan gehou nie. Die huis was te groot en duur. Dit was onvanpas vir ’n leier van die people, sê hy in sy outobiografie.
Hierna is Mandela op ’n warrelwind-toer na Afrika-lande, Europa en Noord-Amerika, waar hy van die belangrikste wêreldleiers ontmoet het.
In New York is hy vereer met ’n ticker tape-parade van 25 km – die grootste wat die stad nóg beleef het. Die mense langs die strate is tot op ’n miljoen geraam.
FW word uitgetrap
In die maande daarna is tallose talks about talks gevoer ter voorbereiding vir die eerste amptelike onderhandelinge: Kodesa 1, die konvensie vir ’n demokratiese Suid-Afrika.
Kodesa het op 20 Desember 1991 begin.
Die aand voor die konvensie het Mandela en De Klerk lank telefonies gepraat. Mandela sou volgens die program die laaste spreekbeurt hê.
De Klerk wou hoor of hy nie die laaste sê kan kry nie. Mandela sê in sy outobiografie hy was eers teësinnig, maar het later as ’n guns aan De Klerk ingestem.
Dié aand het De Klerk die laaste spreekbeurt gebruik om ’n hewige aanval op die ANC uit te voer. Hy het die ANC daarvan beskuldig dat hy nie by ooreenkomste hou nie, steeds ’n private weermag (MK) in stand hou en het bevraagteken of die ANC eerbaar genoeg is om te hou by enige ooreenkomste wat hy teken.
In die groot saal in Kempton Park was dit doodstil. In die mediabanke het ons onrustig rondgeskuif, want ons het geweet hier kom groot drama.
Ek het met my kollega Ferdi Greyling begin praat. Hy het kortaf gesê: “Bly stil, hierdie is geskiedenis.”
Mandela het skuins na agter in sy stoel gedraai en ’n paar woorde met sy ANC-kollegas gewissel. Toe het hy opgestaan en stadig en afgemete na die podium geloop. Sy gesig was strak. Hy was woedend.
“Ek is diep bekommerd oor mnr. De Klerk se gedrag vandag. Hy het ’n aanval op die ANC begin en hy was nie eerlik nie.
“Selfs die hoof van ’n onwettige, gediskrediteerde minderheidsregime soos syne moet sekere morele standaarde handhaaf?
Dis geen wonder die Konserwatiewe Party wen so baie van sy steun nie.”
Hy sal steeds met De Klerk praat as dié wil. Maar De Klerk moet vergeet om voorwaardes aan die ANC te stel.
“Ondanks al sy foute sal ek saam met hom werk.
“Hy verteenwoordig ons nie. Hy kan nie in daardie taal met ons praat nie.”
Daar was lank nog bitter twiste. Baie bloed het gevloei. Maande lank was daar die een dag hoop en die volgende dag wanhoop.
Soms het dit gelyk of die onderhandelinge in duie stort.
Op daardie aand by Kodesa 1 het Mandela sy streep in die sand getrek en sy morele gesag opgedwing.
Van daardie dag was daar nie twyfel wie in beheer was nie, al het hy die mag amptelik eers op 27 April 1994 oorgeneem.
- Beeld