Die dag toe hulle Madiba verloor het
2010-02-11 07:22
Johannesburg - Trevor Manuel was moeg toe sy telefoon Maandag 12 Februarie net ná 05:00 lui.
Die vorige paar dae was chaoties: eers die versukkelde voorbereiding vir Nelson Mandela se vrylating Saterdag, die deurmekaarspul Sondag by die Parade voor sy toespraak en toe die geweld in die Kaapstadse middestad.
Tussenin het Manuel, in beheer van die ANC-leier se konvooi tussen die Paarl en Kaapstad, boonop daarin geslaag om die wêreld se bekendste gevangene te “verloor”.
“My gô was uit,” sê Manuel, toe ’n takhaar-aktivis, maar deesdae ’n gesiene viertermyn-kabinetsminister, in Afrikaans.
“Dit was Madiba op die foon: ‘Trevor,’ sê hy op sy kenmerkende manier, ‘toe jy my goed ingepak het, waar het jy my weights gesit?’
“‘Jou weights?’ vra ek. ‘Ja, my weights. Ek gym elke oggend, ek moet hulle hê!’
“Ek was kláár, ek was moeg en al wat die ou man wou hê, was sy weights!” lag die beplanningsminister en slaan sy hande saam.
Dít is die goue draad deur Mandela se lewe, meen Manuel: standvastigheid. Dieselfde geaardheid, dieselfde beginsels en dieselfde roetine strykdeur – Madiba verander nie.
Wat nou?
Niemand het presies geweet wanneer Mandela vrygelaat sou word nie.
Saterdag 10 Februarie, net ná 07:00, kry Manuel ’n oproep van genl. Johan Willemse, hoof van gevangenisse, wat sê hy moet om 14:30 in sy kantoor in die H.F. Verwoerd-gebou in die parlementêre kompleks wees.
“Wel, hy wou my beslis nie van daar af in aanhouding plaas nie en ek het Bulelani Ngcuka, Dullah Omar en Valli Moosa gaan haal en ons is na Willemse toe.
“Daar gekom het hy ons meegedeel pres. FW de Klerk doen op daardie oomblik ’n aankondiging in Tuynhuys dat Mandela die volgende dag vrygelaat word.”
Stilte. Wat nou? het Manuel gewonder. Willemse het voortgegaan: “Die oomblik dat hy uit die gevangenis is, is hy julle verantwoordelikheid. Hier is kol. Griebenouw, as julle hulp met veiligheid benodig, vra hom.”
Manuel se eerste reaksie was dat hulle al so lank daarop wag en boonop al ’n paar kleedrepetisies gehad het met die vrylating van Govan Mbeki, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Andrew Mlangeni en Elias Motsoaledi.
Mandela se vrylating was egter potensieel in ’n ander klas – en hulle het net ’n Saterdagmiddag gehad om reëlings te tref.
Die vier makkers het dadelik begin bel en met prof. Jakes Gerwel, rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), gereël om geriewe daar te gebruik voordat hulle Paarl toe gejaag het om Mandela te gaan sien. Daar aangekom “sit Madiba in sy pajamas, natuurlik baie dankbaar, want hy weet reeds, en sê: ‘Ja, dankie kêrels, maar ek het gedink ek moet die volgende môre in my toespraak sê...’ ”
“Ons was amateurs”
Terug by die UWK het ’n spannetjie begin reëlings tref om Mandela te ontvang.
Volgens Manuel was dit ’n gemors: Hulle moes oral heen en almal bel; take is uitgedeel; daar moes met die stad, polisie en verkeer geskakel word oor die Parade vir die massasaamtrek.
“Daar was geen sprake van T-hemde maak of pamflette druk nie; ons moes ’n klankstelsel opspoor...op ’n Saterdagaand!”
Vervoer was ’n probleem: Hulle het niemand geken wat blink vuurwaens, geskik vir iemand van Mandela se statuur, besit nie. “Ek meen, ek het ’n 1300 Toyota gehad. Die ouens met die groot karre was kafee-eienaars en ons het ’n groot Cressida opgespoor wat ons sou gebruik.”
Niemand het geslaap nie en Manuel het Sondagoggend vroeg stad toe gejaag om seker te maak alles is reg daar voordat hy Paarl toe is. Hy het besef daar kom ’n ding toe hy die skares al langs die pad na Victor Verster sien saamdrom.
Maar daar was nog probleme. Die kamerade in Johannesburg wat twee vliegtuie gehuur het om familie en vriende Kaap toe te vlieg, het ’n straalvliegtuig en ’n skroefvliegtuig gekry met die gevolg dat hul rooster deurmekaar gekrap is. “Ons was absolute amateurs...”
Ná ’n emosionele en private hereniging met sy gesin is Mandela en die groep vort Kaapstad toe – Manuel, Cyril Ramaphosa, Moosa en Jay Naidoo in die Toyota, Mandela in die Cressida.
Mandela is weg
Die kort pad N1 toe was weens die massa mense onbegaanbaar en die konvooi het ’n ander pad Kaapstad toe gekies.
“Ons het die grootste en sterkste ou wat ons kon kry, Willie Hofmeyr (deesdae die skraal en tenger adjunk- nasionale vervolgingshoof), hoof van skarebeheer gemaak. Hy het my gou laat verstaan dinge voor die stadsaal en op die Parade is buite beheer.
“Daar was die mal Rastafariërs wat vir (aartsbiskop Desmond) Tutu rondgejaag het omdat hy kwansuis nie ’n regte leier is nie...(dr. Allan) Boesak kon die mense nie oor die luidsprekers beheer nie...maar ek het gedink ons kan dit afpull.”
Die konvooi sou op Manuel se bevel eers in die ondergrondse parkeerterrein van die burgersentrum wag voordat hulle stadsaal toe sou gaan. Toe hy egter terugkeer om hulle te gaan haal, was hulle skoonveld.
“Wat nou? Madiba was in ons sorg, en nou’t ons hom verloor! Dis ’n probleem, jy weet?” vertel hy, ewe skielik begeesterd.
Kort daarna pluk ’n verkeersbeampte aan Manuel en Griebenouw sê vir hom oor die tweerigtingradio hy moet Mandela dadelik stadsaal toe vat, “anders gaan Kaapstad vandag brand”.
“Ek het maar gehap-hap toe hy vra waar Mandela is, want ek het nie geweet nie ...ons het hom toe by ’n huis in Rondebosch opgespoor, skoene uit, lekker aan’t gesels met ’n koppie tee in die hand...”
Die verkeersbegeleiding het die Cressida-bestuurder verkeerd verstaan: Hy het gehoor “city hall” in plaas van “civic centre” en die konvooi moes op die vlug slaan toe die onrustige skare aan die voertuig met donker vensters begin ruk het.
Beeld het die volgende dag omvattend berig oor die skare op die Parade en geskat tot 60 000 mense het geluister toe Mandela 19:50 deur Sisulu voorgestel is.
Manuel het Mandela se toespraak onlangs weer gelees en meen dit illustreer sy standvastigheid perfek.
“Doen moeite en gaan lees dit: Hy eindig die toespraak met presies dieselfde woorde as waarmee hy sy getuienis in die Rivonia-verhoor afgesluit het.
“Dis belangrik. Die krag van daardie woorde is groot en hy gebruik dit op twee verskillende draaipunte in ons land se geskiedenis, 26 jaar uit mekaar.”
Mandela se toespraak was ferm (hy het die ANC se verbintenis tot die gewapende stryd bevestig) maar ewewigtig, met erkenning aan De Klerk en ander.
“ ‘Waarom moet jy dit oor De Klerk sê?’ het ons gevra, want ons was hardegat, militant... ‘Nee, hy het integriteit, en ons kan nie onderhandel met iemand sonder integriteit nie’.
“Mandela was helder, berekend...en in beheer.”
- Beeld