Diegene wat my ken, of my al leer ken het deur middel van my ou simpel storietjies wat ek vir julle skryf, sal weet dat ek baie lief is vir my vrou en absoluut enigiets vir haar sal doen – selfs Breaking Dawn Part 2 gaan kyk. ‘n Man het ook sy perke...
Dis nie maklik vir ‘n man om sulke flieks te kyk nie, veral as al die mannetjies in die fliek ses-pakke het en jy slegs ‘n papsak. Ons moes besluit wanneer ons die fliek sou kyk. Vrydag was uit, want al die jong bokkies gaan kyk met hul arme kêrels (wat duidelik die meisietjies net wou beïndruk), sou die hele tyd net ge - oe- en –aa het oor die mans en hul lywe.
Saterdag kon moontlik werk, maar die lus was nie daar nie – ek wou die affêre so veel as moontlik uitstel.
Sondag moes ons gou werk doen by ons nuwe huisie, en dan sou ons die middag vyf-uur gaan. Die tyd het aangebreek. Nou moet julle weet, ek was man-alleen tussen vier dames:
My vrou
My dogter
My skoonsuster en haar dogter
Dit sou erg wees…
Gelukkig was dit warm Sondag, en ek het my middagslapie spesiaal uitgestel vir die fliek. Ek snork nie te hard nie, in elk geval, wie sou my kon hoor met al die lawaai?
Ons was gelukkig genoeg om heel voor sitplek te kry, so my plan om ‘n uiltjie te knip was besig om te werk!
Uiteindelik begin die advertensies – wel, al die drankadvertensies het my laat voel asof ek in ‘n kroeg sit sonder geld. Hulle maak mens aspris lus en dors. Aandagtig onthou ek al die nuwe drankies wat adverteer word, en skielik begin die lokprente van ander flieks.
The Hobbit het goed gelyk... Vir my vrou, ek was nog nooit juis gepla met Lord of the Rings en diesmeer nie.
Skyfall het uitstekend gelyk, totdat my vrou gehoor het dis ‘n James Bond-fliek.
Hier begin die fliek! Ek gee my vroutjie ‘n vinnige piksoentjie om ‘nag’ te sê en maak my ogies toe. Ek het al geleer om op my regteroor te lê want die linker een is in elk geval doof.
Ek skat seker so tien minute in my diepe slaap in, voel ek ‘n stamp teen my linkerbeen.
“Ag eskuus. Ons is ‘n bietjie laat” grinnik die vrou met haar twee kindertjies wat glad nie, geheel en al nie naby aan dertien jaar oud was nie, en stap aan om langs my vroutjie te sit. Haar kindertjies het agter haar gaan sit.
Wanneer ek so wakker moet word vind ek dit moeilik om weer aan die slaap te raak.
‘n Half-uur in die fliek in, ek kan nie aan die slaap raak nie en word geïrriteerd. Die vrou langs my vroutjie (met die stoute kinders wat die sitplekke die heeltyd skop en tantrums gooi oor te min Astro’s) mompel die hele tyd dat wat wys, nie in haar boek was nie.
So gaan dit aan vir 15 minute. My vroutjie begin ook haar koel verloor en hou my hand stywer vas – dit kon ook gewees het toe Wollie (ek kan nie die wolf se naam onthou nie) sy hemp uitgetrek het.
“Julle raas”
“Sjjjj”
“Beep man, kry jou kinders onder beheer!”
Dammit, nou kan ek eers nie slaap nie!
Die kinders raak weer (na ‘n paar minute) onplesierig en my dogter begin ook met skrefies oë agtertoe kyk.
Ek moes ingryp. Teen hierdie tyd het my bloed gekook, want ook al wil ek slaap, het ek nogsteeds R45 betaal om die fliek te kyk of nie. Ek het nie betaal vir steurings nie. My vrou en my dogter wou baie graag die fliek kyk.
“Maar dis nie in die boek nie!” sê sy weer.
Ek kon myself nie help nie en sê toe vir haar:
“Mevrou, hierdie is nie ‘n biblioteek nie. Dis ook nie ‘n parkie waar jou kinders kan rondbaljaar soos hulle wil nie! Shut up nou of beep.”
“Ai liefie, die fliek is darem amper klaar, los haar maar.”
“Dis reg my liefie.”
Die vrou se mond het seker vir nog ‘n tien minute oopgehang, want hoe durf ek so met haar praat?
Alles is weer spiekeries, totdat die vampiere en wolwe met die ander vampiere (ek neem aan hulle was vampiere, dit wou so voorkom – ek is meer ‘n True Blood – ou ) begin baklei.
“Dis ook nie in die boek nie!”
“Mamma! Mammie! Ma!”
“Astro’s! Coke!”
“Shutup man ek wil die fliek kyk! Wag net so bietjie!” retalieer sy.
My vrou was heel duidelik op haar laaste senuwee en sy gryp die vrou se boek en gooi dit agtertoe.
“Jy gaan betaal vir die boek! Beep!”
Jong, vra vir my, jy wil nie in ‘n vuisgeveg met my vroutjie betrokke raak nie... Gelukkig het sy nie die vrou te lyf gegaan nie.
My vrou kyk haar stip aan met waarskuwende oë, en die vrou besluit toe om haar boek mompel-mompel te soek
“Kom kinders, ons is nie welkom hier nie!”
Die laatse vyf minute was salig. Niemand het eers gedurf dit waag om ietsie te sê nie, en kon ek darem uiteindelik my uiltjie knip, danksy my wonderlike vrou.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.