Frans Ludeke en Allister Coetzee het duidelik die spreekwoordelike streep in die sand getrek met die aankondiging van hul onderskeie spanne die laaste 24 uur vir die allerbelangrikste afskop van die 2013 Superreeks in Suid-Afrika.
Beide breiers steier onder die las van senior spelers op die krukkelys en ‘n mens wonder stilweg of die besering aan Schalk Burger nie dalkies hom diesrlfde pad gaan laat loop as Juan Smith van die Cheetahs nie. ‘n Flank se lyf in hedendaagse rugby kan net soveel houe vat. Jean de Villiers is ook nie ver van die laaste keer sy tokse aantrek nie en beide Coetzee en Heyneke Meyer moes al strategie bepaal het oor sy uitfasering.
Die feit dat Richie McCaw vanjaar ‘n internasionale blaaskans vat, onderstreep juis die eise van eersterangse rugby en die las op die lyf. Daarteenoor skuif die denkbeeldige ouderdomslyn vir topvlak rugby net nog verder terug. Jong manne wat nog op skoolbanke sit, speel tans internasionale rugby, neem Handre Pollard as voorbeeld; laasjaar in die junior Bokspan terwyl hy nog op die skoolbanke gesit het. Eben Etzebeth is ook ’n sprekende voorbeeld daarvan. Goed genoeg is inderdaad oud genoeg.
Hoe dit ookal sy, met die lang seisoene (en dit sal nie sommaar korter word nie) en die al hoe groter wordende druk om te presteer, val afrigters graag terug na dit wat positiewe resultate sal verseker- die ou resep.
Daar is ‘n hele paar aspekte van Vrydag se wedstryd wat van belang is en een daarvan is om te sien hoe die Stormers hul sukses van 2012 gaan oordra na 2013 - veral hul verdedigings sukses wat die heel beste in die kompetisie is, en die ander aspek is die Bulls se aanvals strategie.
Victor Matfield met sy meer as 100 eersterangse wedstryde is van vanjaar af afrigter. Matfield se lang, skraal figuur is ‘n bekende gesig op Loftus en hierdie jaar is dit geensins anders nie. Die man met lang lyf (en geskeerde beenhare - hy ry nou ernstig bergfiets!) roep hierdie jaar nie net nommers in die lynstane nie, maar maak strategiese roepe in algemene en vaste spel.
Hoe suksesvol hy die oorgang van speler na afrigter gaan maak, sal tyd net leer. Dat Matfield doodernstig is oor afrigting, is net so seker. Verlede jaar na die Bulls se nuwe trop afrigters aangekondig is, het hy dit aan joernaliste baie duidelik gemaak dat hy “baie ernstig is om afrigter te word; selfs eendag Springbokafrigter… gaan lees my boek…” Sy toets as afrigter teen die beste verdedigingspan in Superrugby kom vanjaar sommaar gou.
Die tafel is gedek vir twee uitgeslape hoofafrigters, vars senior spelers, ‘n groep jonges wat in die linie wag en van die mees fanatiese ondersteuners wie jy jou kan verbeel.
“Dis geen revenge game nie, het Pierre Spies aan joernaliste by die Bulls se spanaankondiging gesê. “Dis ‘n harde Noord-Suid derby”.
Jaco Peyper, wie die wedstryd blaas is nou ook al ‘n senior as dit by skeidregterskap kom.
Vrydagaand tien oor sewe, is dit dus senior rugby op sy beste.
Waar anders as op liewe Loftus…
- Hierdie skrywe het verskyn op die
blog
Tussen vier lyne.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.