Ek het julle al van te vore vertel dat ek, my vroutjie en my dogter in ‘n nuwe plekkie in trek. Ons was nogals geseënd om die plek te kry, of so het ek gedog in my klein kop.
Soos my wonderlike vroutjie is, dink sy altyd vooruit en aan alles – sy is letterlik die meesterbrein agter ons familie-operasie – en kry die idee om die tuin by die nuwe huis (wat chaoties was) uit te sorteer voordat ons begin Desember intrek.
Ons het geweet dat dit ‘n baie lang ruk sou vat om die tuin weer vrolik te kry, so ons het die eerste naweek van November begin met operasie “RegRuk”.
So kom die eerste naweek aan, en ons vertoef af na ons nuwe gehuggie. Skaars daar en hier staan my toekomstige nuwe buurman met ‘n groot glimlag op sy oop gesig. So vriendelik soos wat ek is, en met die maniere wat my oorle ma my geleer het, stap ek na hom en stel myself en my vroutjie voor.
Ons gesels ‘n bietjie en die ou haak af en sê die volgende vir my:
“Weet jy wat, Hannes” hy praat met my asof ons mekaar jare lank ken. Dis maar in ons natuur om te gesels.
“Ek’s net bly dat julle nie swart is nie.” voltooi hy sy sin. Njannies. Ek sweer.
My gemoed verander heeltemal, my indrukke van my buurman verander ook vinniger as wat mens ‘Mes’ kan sê.
Ek het nie geweet wat om te sê nie en staan en dink eers hoe ek sou antwoord op sy stelling. My vroutjie (ek het julle al vertel dat sy ‘n bondeltjie vuur is) was glad nie ingenome met hierdie man se stellings nie. Ek ook nie.
Sy vra hom toe:
“Nou hoekom sê jy jy dit?”
“Jong, jy weet mos. Geraas. Gevaar. Onrustigheid”
Na die die tweede woord het ek aspris met my regter oor ook doof geword. Ek het rooi gesien – en dit was nie net my vroutjie wat rooi gebrand was deur die son nie. Ek het letterlik skarlaken rooi gesien.
Nou, was ek ‘n paar jaar jonger, en ‘n hele paar kilo’s ligter sou ek die man daar en dan vasgegryp het en wakker geskud het. Ek moes. Ek sal ook seker eendag.
Hoekom?
Wel, ek begin toe vir hom verduidelik dat geweld geen kleur sien nie. Mense sal seker nie met my saamstem nie;,maar ek weet uit eerstehandse ondervinding.
Dit was nie swart mense wat in ons huis in gebreek het en alles gevat het nie, dit was wit mense.
Die Modimolle-monster is nie swart nie. Chanelle Henning se dood was nie beplan deur ‘n swart mens nie.
Ek kan aangaan met nog redes, maar trek die streep maar hier.
Ek sê ook nie dat swart mense engele is en wit mense duiwels nie. Ek probeer ‘n seker stigma verduidelik, en ‘n storie vertel – dis al. Almal het foute. Elke rasgroep het sy foute.
“Beep, jy’s laf” sê die man vir my met ‘n glibberige glimlag.
My vrou het intussen geloop en haar woede met die graaf uitgehaal in die tuin, liewers. Sy is nogal sterk hoor.
Ek sê toe vir hom, heel beskaafd dat ons eintlik baie dinge het om te doen en dat ons later weer lekker sal opvang.
Hy skud my hand en verdwyn sy jaard in.
Ek staan en rook my sigaret eers klaar en voel bietjie kalmer.
Skielik, uit die bosse gewaar ek weer sy kop.
“O ja, ek het ‘n rollie – net vir in geval die swart gevaar in jou jaard in kom”
Dis die dat ek hom kil vra:
“En die wit gevaar?”
Hy gluur my net aan en verdwyn verder weg.
Die res van die dag het ek hom nie weer met ‘n oog gesien nie. Ek het hom laasweek en die week tevore ook nie met ‘n oog gesien nie.
Nou wonder ek by myself, wanneer gaan hy nou die rollie uitpluk waaroor hy so gespog het? Wanneer gaan hy my en vroutjie en my lieflike dogter begin beskerm?
Wie gaan my familie teen hom beskerm?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.