Wat is in ‘n naam?
Oom Willem Wikkelspies skryf in daai storie oor Romeo en Juliet oor die ding van ‘n naam. Hy vra of ‘n roos, by enige ander naam geroep, minder soet sal ruik? Die oubaas het seker ‘n punt beet, jy kan ‘n melkkoei ‘n padda noem en sy sal nogsteeds nie kan swem nie. Tog is daar ‘n ander kant van die munt...
Ek onthou van my kinderdae af, daai vreeslike dae in apartheid toe ons kinders kaalvoet saam, wit en swart, die plaas vol gespeel het, (terwyl, so hoor ek deesdae, my pa klaarblyklik slawerny toegepas het) die verskillende name van die swartetjies op die plaas. Hulle het altyd twee name gehad, ‘n Afrikaanse naam en ‘n Sotho naam.
Baie van hierdie name was reg uit die ’33 Vertaling. Ek het eendag, jare later toe ek al self geboer het, opgemerk dat ek op die dag ‘n kwart van die dissipels, ‘n handvol profete en selfs ‘n rigter gehad het om die dag te help met waatlemoene laai. Maar Moses se naam was net Moses by die werk. Saans as Moses huistoe gegaan het, het hy ‘n ander Sotho naam gehad wat ek eerder nie gaan probeer spel nie.
My ma het die klein plaasskooltjie vir jare lank aan die gang gehou (in dieselfde tyd as wat, hoor ek nou, my pa glo slawerny toegepas het). In die middag het sy deur die boeke gewerk van Stefaans Meerkat, Anna Seekoei en ook Abraham Kantwane. Vandag 18 jaar na die wrede apartheidsjare, (waar, hoor ek nou, ons nie ‘n enkele kliniek gebou het, skool opgesit het of ‘n stukkie barmhartigheid betoon het nie) kyk ek na die name van die kinders. Ek kyk net na die name want ek kan dit nie uitspreek of spel nie. Hulle het hulle name terug-gevat.
Ek onthou my laerskool-klassie. Daar was lekker boername soos Frederik, Rudolf en Jannie. Hier en daar was daar ‘n Jaco wat kort was vir Jacobus, ‘n Christo van Christoffel geleen en ‘n Izak wat Zak geword het. Aan die skoner kant was daar ‘n Christina, ‘n Santjie en ‘n Petro. Die vanne was net so eie aan ons met Van der Merwe, Venter, Marais, Hugo en Erasmus.
Toe kom daar mos hierdie geit onder ons mense dat kinders nie so swaar moet dra aan die familie-name nie. Die Christoffel Johannes Herman Venter word ingeruil vir Chris Venter. Die Petronella Johanna Marais word Petra Marais en so neuk hulle al wat ‘n -ina en ‘n -anus (moenie lag nie ek het twee in my name) en ‘n –offel is weg vir korter meer moderne name. Sodat die kinders nie so swaar kan dra aan die name nie (want woorde is mos sulke swaar goed om te dra).
Ek lees op die ellendige Facebook die name wat mense deesdae vir hulle kinders gee. Liewe ouers! Oupa was Johannes Jacobus en nou word die bloeitjie gewetter met Jay-Jay van Staden. Huh? Nie sy bynaam nie, sy doopnaam! Ek het in my familie ‘n man genaamd J.J. maar jy spreek dit in Afrikaans uit J.J. en dit is sy voorletters wat as naam dien. Geen probleem, klink eintlik baie mooi. Maar om jou kind Jaay-Jaay van Staden te doop is sommer net ‘n stukkie ongesensorde humor!
Doen jouself ‘n guns en kyk hoe val jou eie familie-name uit die boom. Name word nou opgemaak deur ‘n bymekaarneukery van die ma en die pa se naam en dan, as dit kan word dit nog half Franserig ook gemaak dat dit oor die tong kan vloei. Ek wil nou nie mense in die gesig vat oor hulle naam nie. Kanse is goed jy het dit nie self gekies nie. Die punt wat ek probeer maak is hoe ons volkie die laaste dekade probeer het, aktief besig was met, aspris, om ons erfenis weg te d*nner.
Ek verstaan dit is ‘n lang storie om jou drie geboortename elke keer te moet uitskryf, maar ek het nog nooit gehoor van iemand wat maagwerkings ontwikkel het daarvan nie. Ons het onsself in hierdie ideologie ingeburger waar ‘n naam net nog ‘n ding is. Dit moet modern wees en kort. Dan is ons gelukkig. Is ons so afgestomp vir ons eie identitiet?
In die proses om ons kinders ligter te maak, ontneem ons hulle van ‘n ryk geskiedenis. Elton-John de Wet gaan sukkel om te verduidelik hoe sy naam nou eintlik sy trotse voorgangers verteenwoordig. Justin-Bieber Kruger het ‘n opdraende pad om met Oom Paul van ouds te assosieer. Om een of ander rede het ons die hele plastiek Hollywood-televisie ideologie ons eie gemaak... en in die proses het ons, ons naam verloor...
Die swart volke het ‘n doel gehad, hulle het baklei daarvoor en vandag vat hulle hulle name terug. Ons gee dit weg, aspris...
Die een geluk is dat Oom Willem Wikkelspies tog raakgevat het. ‘n Roos, by enige ander naam geroep, sal nogsteeds soet ruik.
Net so sal daar dalk ‘n Michael-Jackson de la Rey die volk kom lei, wie weet. Ek troos my daaraan dat as oorlede Oom Willem die voorreg gehad het om ons hardegat volkie te kon ontmoet hy dalk die ding so sou beskryf: “... that which we call a Boer, by any other name, will still be a bliksem-eth”
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.