Dit is vir my 'n volslae enigma hoe die stakende landbouwerkers se koppe werk.
Hulle is meestal sonder spesiale vaardighede en hulle skoolopleiding strek van geen tot baie gebrekkig... Hulle ding mee om 'n beperkte getal poste op plase, so mens sou verwag dat hulle die beste voet sal voorsit om hulle werk te beskerm en te behou al is lone nie waffers nie en huisvesting nie vyfstergehalte nie.
Hulle sien dit egter nie so nie en gaan oor tot gewelddadige stakings waartydens hulle winkels stroop, boere se eiendom vernietig en werkers wat wil werk, intimideer en aanrand.
Hulle blameer nie die regering, die powere onderwysstelsel, hulle ouers en die swak opvoeding wat hulle ontvang het of hulle eie traagheid of onvermoë om hulle kwalifikasies te verbeter, vir hulle ongelukkige toestand nie, maar wel die boere.
Die bedreigde spesie word verguis, gedreig en in die proses vervreem en verhoed om hulle oeste af te haal waarmee die werkers betaal moet word.
Wat ook onverstaanbaar is, is dat vakbondleiers wat van beter behoort te weet (Tony Ehrenreich) asook ministers (Tina Joemat-Pettersson) hulle aanmoedig en hulle optrede goedpraat.
Die politici se optrede kan waarskynlik toegeskryf word aan politieke opportunisme alhoewel dit uiters kortsigtig is om anargie en wettelose gedrag aan te moedig. Wat opgaan, kom weer af.
Die feit bly dat die onwettige gewelddadige stakings wat tans plaasvind vir die betrokkenes en die land langdurige skade berokken, nieteenstaandende ons singende en dansende president se positiewe siening van die toekoms en al sy goeie bedoelings.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.