Die vroegsomer se sonnetjie brand daardie Sondagoggend amper te warm op my se blaaie terwyl ek ons nuutgeplante Apiesdoringboompies met ‘n groot verfemmer natdra.
‘n Onbekende voertuig wat soekend stadig die plekkie inry trek my aandag. Ek staan so hand-voor-die oog hulle en dophou en dan begin die voertuig stadig in my rigting kom. Ons groet formeel en toe begin die groot gesels. Eers so oor die voertuig se deur en daarna op die stoep met ‘n kommetjie warmte in die hand. Hulle kom ver, baie ver en het gedink hulle wil so bietjie by ons kom oorstaan. “Darem nie te lank nie, want ons moet netnou weer aanstoot dieper in die Kalahari in” het die spraaksaamste van die twee gesê.
En so tussen die gekuier, gesels en gekou aan die sonoond se kos, is daar so ‘n stukkie stilte. My nuuskierigheid steek soos ‘n honger meerkat sy kop uit en vra vir die stiller een wat hy vir ‘n lewe doen as hy nie in die Kalahari kuier nie. “O ek, ek is ‘n pediater in Bloem” sê hy saggies. Die Mooiste Mooi laat haar eetgoed val asof sy ‘n elektriese skok gekry het en my se mond val so tussen die gekou wyd oop. “Dan is jy mos ‘n antwoord op ons gebed ” sê sy met nat oë. Die stilte is skielik swaar en dik – nes ‘n pofadder wat ‘n ertman ingesluk het. “O” sê hy saggies met ‘n groot vraagteken tussen sy se oë “nou hoe so?”
En so begin die Mooiste Mooi vertel van Katrien en die swaar las wat sy altoos in haar se hart en op die heup moet ronddra. Sedert Tisha se geboorte sowat drie jaar gelede was niks nog ooit weer normaal vir Katrien as moeder of selfs vir die kleine Tisha nie. Siekte het sommer so met die knip van die naelstring kom adres maak in haar se tingerige lyfie. Eers is dit ‘n siekte en dan ‘n pes. En dan soms is dit sommer twee of selfs meer siektes wat haar op dieselfde tyd treiter. So bly hierdie kleine dogtertjie kronies siek en niks en niemand kan help nie.
Wrede gevoelose mensegoed praat en skinder oor die familietjie, maar dis net die dapperstes wat Katrien openlik bespot en uitkoggel. Sy wat alewig haar kind in ‘n kombersie toedraai en oraloor heen ronddra. En so het hierdie wrede afbreekdae aangehou en het dit lateraan weke geword, weke het maande geword en maande op hul beurt jare en steeds word Tisha oral heen gedra. En so verdra Katrien maar die spot van die dorp terwyl die simpatiseerders maar aan die min kant is. Hulle wat tog te dankbaar is dat dit nie hulle las is nie.
Dan vertel die Mooiste Mooi van die soeke en vertwyfeling in Katrien se binneste-binne terwyl Vader se antwoorde en sigbare hulp wegbly soos sagte indrinkreën in die droogte. Juistemint Vrydag wat nou verby is vertel sy, het Katrien met Tisha asook ‘n verwoeste hart by haar kom aflaaiplek en raad soek. Katrien se gemoed was barstens toe vol van los sand want êrens in voorlaaste week het ‘n jong doktertjie juis daar in Upington by die hospitaal gesê dat haar kleine Tisha nooit ooit sal loop nie.
Die stil een sit roerloos en luister aandagtig na die Mooiste Mooi se vertelling. ‘n Blink nattigheid omring sy liefdevolle kykers terwyl hy haar woorde oordink. “Ek het nou wel nie my ‘toolbox’ hier nie” sê hy, “maar dink julle die mamma sal omgee as ek die kleine Tisha ondersoek?” En met dié woorde wat dawerend in onse ore eggo, ry ons met die Genadewa na Katrien se plekkie.
Vroegoggend die volgende dag sien ons Katrien van ver af aankom. En sommer so met die oopmaak van die kombuisdeur na haar harde klop, druk die Mooiste Mooi ‘n beker koffie in haar hand en so gaan sit die twee vriendinne op die agterstoep.
“Mevrou” sê sy terwyl die trane vrymoedig oor haar se wange stroom, “Ek en Mevrou het dan laaste Vrydag begin om Vader te vertrou vir een van daardie spesiale dokters om na Tisha te kyk. En nou, Mevrou, het die Here nie net ‘n dokter nie, maar ‘n spesiale ene na my toe gestuur. “Ja Mevrou” sê sy so tussen die snikke deur “hier op Noenieput het hy haar kom ondersoek en toe het hy vir haar hande opgelê en gebid. Ek vertrou steeds dat onse Tishatjie gesond sal word sodat sy kan loop.”
Dis ‘n maand of wat later en die Mooiste Mooi ry met die Genadewa na Katrien se vaalbruin huisie wat regoor die polisiestasie staan. Dié se glimlag is die dag breër as gewoonlik toe sy naderstap nadat daar gestop is. Die twee vrouens groet vriendelik en raak aan die gesels. Amper half steurend draai Katrien kort-kort haar se blinkswart oë in die rigting van die huisie se voordeur terwyl die twee vrouens in die vroegoggend sonnetjie staan en gesels.
Stadig gaan die voordeur met ‘n gekraak oop en beide van hulle kyk om. Versigtig loop die oudste sussie van sowat ses jaar stadig agteruit terwyl Tisha haar volg met klein vuisies wat haar pinkies styf vashou. Treetjie vir treetjie waggel sy stadigaan vorentoe terwyl sy saggies giggel. Met haar se ogies wat soos diamante skitter en blink asook ‘n wye oopmondlaggie getuig hierdie kleine Kalahari-dogterjie teenoor ondankbare genadelose skepsels dat vertroue in Hom alles moontlik maak ... want Tisha loop!!!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.