Waarom versekering hê as die versekeringsmaatskappye vol skuiwergate is en meestal weier om eise uit te betaal?
Bv. ’n Huis se mure begin kraak, en glo dit maar, hulle verskoning is dadelik ‘grondverskuiwing’ al is daar GEEN tekens van so verskuiwing nie.
Dakke begin lek en eerste wat hulle doen is om ‘onderhoud’ te blameer.
Waterverwarmer bars en skielik is die ouderdom van die verwarmer ’n probleem.
Jou goed word gesteel en skielik moet jy kwitansies vir alles kan lewer selfs al was dit op jou lys van versekerde goed. Of jy is weer ‘onderverseker’.
Jy word teen boekprys verseker op jou motor, maar almal weet jy koop nie ’n motor teen boekprys nie. Jy koop dit teen bokant die verhandelspryse (retail) want elke ou wat ’n voertuig verkoop maak maar sy eie prys na gelang van die waarde van die voertuig wat hy natuurlik ook self bepaal. Word die kar afgeskryf na ’n ongeluk, is hulle slegs bereid om die ‘boekprys’ uit te betaal en daar is nie ’n manier waarop jy jou motor teen daai prys kan vervang nie. Dit beteken jy moet ‘goedkoper’ koop om weer wiele te kan kry.
Ek kan regtig verstaan waarom mense al begin lieg op eise en ek verwys nie nou na die mense wat eise fabriseer om geld te maak nie. Ek verwys na daai mense wat eise indien vir regmatige gevalle.
Dien jy ’n eis in, moet jy ook nog boonop ’n bybetaling maak. Vir wat betaal jy dan versekering? Dit is mos dan veronderstel om AL die kostes te dek.
Hoekom nie self daardie geld eenkant sit in ’n aparte spaarrekening sodat wanneer iets gebeur jy dadelik toegang tot daardie fondse het om die ‘skade’ self te herstel of vervang nie.
Ten minste kry jy dan die voordeel van die geld wat rente verdien en maak nie een of ander maatskappy se direkteure ryk nie. Buiten dit dra jy ook nie iemand anders se risikos nie.
Ek kan regtig nie meer die sin in versekering sien nie. In my opinie is versekering niks meer as ’n verneukspul nie.
Wie baat werklik by versekering?
NS: Die voorbeelde genoem is van talle mense waarmee ek al gesels het en nie noodwendig my persoonlike ervarings nie. Dalk kan meer hoor van ander mense se ervarings/ nagmerries ten opsigte van versekering?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.