Die gebruike en instellings (kultuur) waarmee kinders groot word, word aanvaar en geinternaliseer en selde bevraagteken.
Dit geld ook vir die kos wat geeët word en hoe dit voorberei word. Wat vir die een etniese groep geld, verskil dikwels hemelsbreed van ander groepe. Honde en slange wat vir sekere mense lekkernye is, is vir ander taboe.
Tugmaatreëls wat nodig is vir orde en dissipline verskil ook van samelewing tot samelewing. Lystraf, wat deesdae in die meeste lande verbied word, was twee dekades gelede nog algemeen en was die vernaamste manier om dissipline in skole te handhaaf.
Kinders het daarmee groot geword en het dit aanvaar as doodnormaal. Niemand is daardeur getraumatiseer nie behalwe waar dit buitensporig en sonder rede toegepas is en dit was die uitsondering eerder as die reël.
Dat dit uitstekende dissipline tot gevolg gehad het, is 'n feit en die huidige chaos by die meeste skole moet aan die afwesigheid daarvan toegeskryf word.
Dit is nou duidelik dat die effektiewe gebruik nie heringestel sal word nie daarom moet ’n doeltreffende metode om orde te handhaaf gevind word.
Die Russe het in die verlede ostrasering gebruik waar die onderwysers en die ander leerders die skuldige totaal geïgnoreer het en die leerder kon vir 'n sekere tyd aan geen aktiwiteit deelneem nie. Dit was doeltreffend, maar by ons sal dit as te wreed beskou word want die leerders is reeds te arrogant en eiegeregtig en sal nie by die reëls hou nie.
Al wat oorbly is om 'n skuldige vir 'n tydperk te skors en die skool te verbied. Die hoof en die beheerraad moet die mag hê om dit te kan doen. Dit sal egter ook onaanvaarbaar wees, want dit tas die leerder se regte aan.
Die ander metodes, soos detensie en ekstra werk, is nie afskrikmiddels nie en word bloot geïgnoreer. So ons sal maar moet aanvaar dat skole in die buurte waar min dissipline is en die ouers nie baie betrokke by hulle kinders is nie min sukses sal hê weens die algemene chaos en laat-maar-loop houding.
Leerders sal misluk soos tans gebeur en vroeg die skool verlaat en aansluit by die miljoene ongeletterdes sonder vaardighede wat meestal in misdaad en dwelmmisbruik verval.
Geen land kan dit bekostig dat byna die helfte van sy jongmense tussen Graad 1 en Graad 12 verlore raak nie en op die lang duur sal Suid-Afrika geweldige sosio-ekonomiese probleme hê en gekwalifiseer word as nog 'n mislukte Afrikastaat.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.