Dit is met groot hartseer en 'n bekommernis oor my familie en vriende in Suid-Afrika wat my laat besluit het om my vingers op die sleutelbord te sit.
Die eerste ding wat ek in die oggend doen is om Nuus24 te lees. Die eerste opskrifte, moord, moord en nogmaals moord op weerlose oumense, onskuldige mense, kinders, en so kan ek aangaan, staar my in die gesig.
Dit is skokkend. Niemand word gespaar nie. Ek werk nou al 13 jaar in die buiteland onder andere ses jaar in Irak en vier jaar in Afganistan. Ja, julle sal sê dit is gevaarlik, maar in my opinie is dit baie gevaarliker in Suid-Afrika.
Wat dit nog moeiliker maak is die bekommernis oor my familie wat in Suid-Afrika woon terwyl jy moet geld verdien in die buiteland aangesien daar nie meer werksgeleenthede vir ons daar is nie. Hier verwag ons moeilikheid, maar in die Suid-Afrika weet jy nie meer wie die vyand is nie. Ek wag in spanning elke dag om te hoor of te lees dat my familie ook 'n statistiek geword het.
Niemand van ons is meer kwytgeskeld van die (ja ek gaan dit so noem) terrorisme nie. Vriende is vermoor en familie was beroof en ander geagtervolg. Die punt nou is dat hulle al so vuisvoos geraak het dat dit vir hulle die normale verloop van die lewe is. Ek woon tans in Tbilisi (Georgia) en het een van my familie lede my nou die dag gevra of ek weer in Suid-Afrika sal kom woon.
Haar woorde: "Dit is nie so erg soos wat mense sê nie en wat jy lees nie". Die mense het so gewoond geraak aan die moord en geweld rondom hulle dat dit nou deel van hulle lewe geword het.
Ek sien dit van die buitekant en kan nie glo wat ek sien nie. Hier waar ek nou is, is ek tenminste voorberei op die onvoorsiene en is ek bereid om die gevolge te aanvaar. Suid-Afrika is nou 'n slagveld van moord wat weggesteek word agter vals statistieke wat uitgereik word deur 'n onbevoegde regering.
Ek mis my pragtige land en sal altyd 'n Suid-Afrikaner wees, maar is ek bevoorreg om in 'n land te bly waar ek nogsteeds in die strate kan loop sonder om die heeltyd oor my skouer te kyk vir die onverwagte en in 'n huis te bly sonder diefwering en veiligheidshekke en ek sluit nie eens my voordeur nie.
Verder wil ek ook sê dat die geweld nie net beperk is tot een etniese groep nie, maar dat almal onder die die selfde kam van moord en geweld geskeer word.
My beroep is die volgende: Almal (nie net die blankes nie) maak oop julle oë, moet nie net die omstandighede aanvaar nie en moet nie vuisvoos raak om die anargie te aanvaar as nog 'n daaglikse gebeurtenis nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.