Dit is voorwaar goeie nuus dat daar 'n interdik op die sluiting van die sowat 18 skole in die Wes-Kaap geplaas is.
Die skole en ander in Suid-Afrika funksioneer met 'n onderwysstelsel wat deur die ANC-regering ingevoer en op almal "afgedwing" was/ is.
Donald Grant het seker, na deeglike studie, bevind dat die skole gesluit moet word, maar wat van die geboue self sou word, was nie van belang nie. Alhoewel ons 'n groot tekort het aan "spesiale skole", met honderde leerders wat op waglyste geplaas word om toelating tot sulke "spesiale skole"!
Dit bring 'n mens by die vraag; moes die ANC-regering nie hof toe gesleep word nie, want dit is immers hulle onderwysstelsel wat die genoemde skole in 'n situasie gedwing het om te sluit. Moes hulle nie tot verantwoording geroep word vir die "geroesmoes" wat in die onderwys aangaan nie?
Dit is immers onder Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (ANC), wat die handboek-debakel gebeur het! Nou word die DA blameer dat hulle die kinders van hul basiese reg tot onderwys wil ontneem.
Helen Zille gryp ook die kans om soos 'n "ware politikus" stemme vir die DA te werf, maar die soeklig moet skerp op die ANC val en die blaam moet voor hulle deur gelê word.
Uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) was immers die "doodgebore babatjie" van wyle Kader Asmal en die onderwys ly nog steeds daaronder!
'n Derde taal wat in skole aangebied gaan word, word in die vooruitsig gestel en sal nog meer komplikasies meebring; weereens 'n voorstel uit ANC-geledere!
So, die wortel van die kwaad lê by die ANC-regering en nie Donald Grant of Helen Zille nie.
Sleep hulle (ANC) hof toe en laat hulle verantwoording doen vir die toestand waarin SA-onderwys tans is!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.