Die ma wat haar minderjarige dogter as seksslaaf uithuur; skote wat klap by 'n laerskool; en korrupsie wat hoogty vier!
Vir enige regdenkende mens lyk dit asof die booshede net nie ophou nie en net aanhou vererger en meer afgryslik word by die dag.
Elke dag naskool stuur ek 'n gebed hemelwaarts dat die gesiggies wat vandag voor my vandag gestaan het, môre weer ongeskonde hul sitplekke met dieselfde lewenslus as gister en vandag sal kom inneem; veral as 'n mens in gedagte moet hou dat byna almal uit gebroke huisgesinne kom.
Ma en Pa is nie bedags naskool by die huis om naskoolse sorg te verskaf nie; kom te laat van die werk af. Sommige kinders gaan huistoe waar die huis-opset 'n enkel-ouer is, gewoonlik die ma en in baie gevalle, 'n dwelm- of alkoholverslaafde of beide!
Baie van hulle moet smiddae hoof van die gesin wees en op enige manier moontlik (wettiglik of soms onwettig) probeer om vir boetie(s) en sussie(s) kos of iets in die hande te kry!
Hier speel die onderwyser die belangrike en ondankbare rol (soms) om voorvalle soos verkragting, mishandeling, ens. te probeer hanteer, voorkom en selfs aan te meld.
By die onderwyser(es) vind die kind 'n vertroueling in wie hy/ sy haar pyn en leed kan deel; op die manier word die onderwyser ook in die huislike omstandighede van die kind betrek; baiemaal onwillekeurig en nie uit vrye wil nie.
Die kind gaan huistoe, onseker of daar 'n stukkie brood op die tafel gaan wees. Gaan mammie of pappie nugter wees? Is dinge by die huis stabiel en "normaal"?
Nou wonder 'n mens onwillekeurig hoe mense soos Zuma en kie saans slaap?
Dink hulle aan al die kinders wat bykans elke dag deur hel moet gaan? Kinders wie se brood letterlik uit hul monde geneem word met hul korrupsie, kinders wat onskuldig in bende-gevegte betrokke raak en gewoonlik die slegste daarvan afkom.
Hoe slaap hulle (korrupte regeringslui) in al hul weelde en daar is duisende hawelose kindertjies wat smag om 'n stukkie brood saans of 'n kombers en nie gerus kan slaap nie as gevolg van rusie/ bakleiery in die huis of bende-gevegte rondom hulle?
Volwassenes kan nog na hul self omsien, maar die arme kindjie, wat nie gevra het om gebore te word nie, is op die ou end die onskuldige slagoffer!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.