Ek het so lekker gelees aan wat Arno alles oor die opkomende Mangaung konferensie van die regerende ANC geskryf het.
Sy voorbeeld van oudpresident Thabo Mbeki is veral kragtig. Dit laat opnuut die vraag in my gemoed ontstaan, hoe presies werk bewyse? Hoe is dit dat een mens ’n spesifieke bewysstuk sal oorslaan of as ongeloofwaardig beskou, terwyl die volgende een die stukkie inligting as ’n belangrike bewys beskou?
Ten spyte daarvan dat ek lekker gelees het en waardering het vir sy stuk, verskil ek van Arno. Alhoewel ek nie die rol van beleid in die sukses van ’n land ontken nie, dink ek dat die rol van leierskap ook geensins onderskat moet word nie.
Oudpresident Thabo Mbeki is ’n goeie voorbeeld. Baie mense in Suid-Afrika het vir president Mbeki bewonder. Hulle het darem ’n president gehad wat Charles Dickens lees en ’n meestersgraad aan ’n Europese Universiteit het!
En dit was uiteindelik grootliks populistiese propaganda wat Mbeki se tweede termyn kortgeknip het. Vir die regerende party was die beëindiging van Mbeki se tweede termyn ’n prys wat hulle skynbaar geen besware gehad het om te betaal nie. Dit wás immers eens hulle president. Die man waarin hulle self hul vertroue geplaas het.
En hoe het die wêreld nie vir die populiste verander nie? Op ’n dag toe besluit mnr. Malema sommer weer skynbaar dat Mbeki toe nou nie so ‘sleg’ was nie en dat Zuma toe nou nie so wonderlik is soos wat hy altyd gemeen het nie!
Daar is ’n ou voos geslaande gesegde in Afrikaans – ’n Vis vrot van sy kop af. Die leiers wat ’n land kies bepaal uiteindelik alles.
Hoekom is dit so dat, ten spyte van al die veranderinge in die onderwysstelsel, slaag talle ou model-C skole tog daarin om presteerders op te lewer?
Dit is omdat die presiese ideologie wat jy as mens navolg uiteindelik maar slegs een faktor is.
Ek het al voorheen verwys na daardie ou ou liedjie wat in die reklame van jare gelede gebruik was. Dit het so gelui (dit is ook dikwels as ’n sport liedjie gesing by interskole ens.) – “it’s not what we do, it’s the way that we do it, that makes us number one”.
Ons kan almal iets leer uit hierdie stelling.
Ek dink dit is die briljante radio-omroeper Amore Bekker wat eenkeer gesê het dat, as jy ooit ’n woord moet lees waarvan jy nie die uitspraak ken nie, sê dit dan asof jy seker is dat jy weet hoe dit gesê moet word (ek dink dit was sy, kan verkeerd wees).
Is dit nie maar hoe ons in elk geval ons lewens leef nie? Ons het mekaar dikwels lief asof ons presies weet wat ‘liefde’ behels…
Ons kort leiers waarop ons trots kan wees. Leiers wat ons laat voel dat ons self ons heel beste moet gee elke liewe dag.
Hel, ons verdien dit eintlik.
- Hierdie is een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.