Ek het raakgelees dit was (27 Februarie) Nasionale Melktertdag.
Ek soek al my lewe lank na daardie oudtydse melktert, daardie melktert waarin jy nog vir Ouma kan raakproe. Jy weet die een met die baie eiers, nogal wit en geel geskei, wat sommer so broeis-geel is van die lekkerte, die kaneelstokkie nog so half vergete in die vulsel, bruinerig gebrand bo-op. Gebak, in die oond en natuurlik die skilferkors, want wat is 'n melktert sonder skilferkors? Soos 'n roos sonder doring?
Nee, definitief nie die skilferlose kors melktert nie, so kil in die Supermark se koue-raak. Met sulke groot skudde kaneel bo-oor om die vulsel te verbloem, wat halfvaal, traag en verveeld in die dop-vulsel lê en wag vir die een wat sy melktert-lus nie kan hou nie, wat gaan waag om dit te koop, wanneer die verlange te groot word, net om terleurgesteld by die huis traag te kou aan vervloeë dae.
Nee, nee, so 'n melktert soek ek nie. My tong hang nou al heeldag uit, ek voel al hoe my mond water vir so 'n lekker, groot kwart-skyf, nie kleiner nie, so half-warm, nie te warm sodat die vulsel loop nie, maar lekker, soet en geurig, wat my laat verlang en herinner aan plaas, hoenders, vee, kraal en die reuk van vars kos, boerekos met die Sondag-agtermiddag melktert!
Vandag (gister) op Nasionale Melktertdag, het die spesiale dag my weer gemotiveer om tog daardie resep te ontdek. Iewers, moet die 'Heilige Graal' resep nog ronddraal, iewers in 'n stowwerige resep boek, wagtend om weer ontdek te word, deur my.
Ek gaan nie opgee nie!
Melktert-mymeringe van 'n honger man. Viva Nationale-Melktertdag, viva!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.