Nee kyk, as jy wil geldmaak, geld soos bossies, geld soos wat jy nog nooit in jou lewe gehad het nie, dan kort jy uiteindelik net een ding, en het ek net die vertrekpunt wat jy soek.
As jy wil geld maak, vergeet van harde werk. Vergeet van kwalifikasies. Vergeet van beleggings en geldmaak schemes. Vergeet van aandele. Vergeet dit.
Daar is iets veel kragtiger as al hierdie dinge. En dit is die menslike brein. Meer spesifiek ons vermoë om vrese uit te dink oor dinge wat nie regtig bestaan nie.
Ek kan ongelukkig nie vir mense die presiese konsep gee om ryk te word nie. Net die beginsel. En die beginsel wat jou die vinnigste ryk gaan maak, is jou medemens se vrese.
Wie was die heel grootste martelaars ooit? Dit is onsself. Ons eie breine.
Ek hoor eendag hierdie ware verhaal. Daar was ’n trokdrywer. Hy het vir jare trokke gery. Sy vrou was vir jare bang hy sterf in ’n ongeluk terwyl hy die trok bestuur. En toe tree hy af en toe? Hoe sterf hy toe uiteindelik? Hy word as voetganger raakgery.
Die ding waaraan ‘sy’ nooit gedink het nie. Al die vrese wat ‘sy’ vir jare uitgedink het, die het toe nooit gebeur nie.
Daar is verskeie bedrywe wat gebou is op mense se vrese. Dink maar aan die mediesefonds-bedryf. Daar is mense wat nooit ooit siek word nie. Maar hulle betaal. Daar is die versekeringsbedryf. Ook gebou op die menslike vrees.
Indien die mens nie oor die vermoë beskik het om konseptueel te dink nie, dan het miljoene mense vandag geen werk gehad nie.
Man, maar eintlik doen amper almal dit. Ons speel die vrees game. Die Johannes Coetzee-sekte het dit gedoen. Die NG-sekte het dit vir eeue gedoen (deur Satan en die hel te propageer). Die Katolieke-sekte het dit vir millenniums gedoen (doen dit waarskynlik steeds vir al wat ek weet). Maar Satan het beslis nie meer die sentrale plek wat hy jare gelede gehad het in ‘my’ kerk nie.
’n Mens moet dalk net van die Johannes Coetzee-sekte sê – húlle was opreg. Coetzee en sy meelopers het daai tyd als verkoop soos ek verstaan. Anders as hierdie ouens wat die sogenaamde 2012 einde van die aarde ding uitgedink het. Miskien was die voorgangers in my eie kerk ook waarlik opreg toe hulle vir eeue die ‘hel’ verkondig het. Dalk self maar die slagoffers van leuens.
In elke geval, as daar een ding is wat al hierdie ‘einde van die aarde’ mense almal in gemeen het, ongeag wie hulle nou is of was of nie is nie en nie was nie (Christen, Protestant, ongelowig ens. ens. ens.), dan is dit dat hulle almal het die datum van die einde van die aarde verkeerd voorspel. Die laaste een was verkeerd. En daar was baie. Een wat ek spesifiek aan kan dink was ene Hal Lindsey, ’n Amerikaanse evangelis. Dié het sy teorie spesifiek gebaseer op die woorde van Jesus van Nasaret in die evangelies, waar Jesus sê dat wanneer Israel se diaspora weer herenig word, dat daardie ‘geslag’ die ‘einde’ sal sien. En toe moderne Israel in 1948 tot stand kom, toe bereken Lindsey dat ’n ‘geslag’ in die Bybel presies 40 jaar verteenwoordig. En toe skryf hy sy topverkoper waarin beweer word dat die mensdom nie 1989 sal sien nie.
En toe eindig kommunisme in 1989, om alles te kroon. En Mandela stap nie lank daarna nie vry rond. En ’n nuwe era begin, in plaas daarvan dat alles ‘eindig’, soos wat die prediker gewaarsku het.
Sy topverkoper. Hy het sy topverkoper verkoop met die Bybel onder die arm. Hy het valshede versprei in die naam van God. En DIS wat mense van Hal gaan onthou as hy eendag heen is terwyl die aarde nog staan.
Hierdie mense van die sogenaamde 2012 einde van die aarde faam het ook goed verkoop soos ek die ding verstaan. En ’n mens se waarde word mos dikwels gemeet aan die dikte van jou beursie in hierdie wêreld, of wat praat ek alles. Mens kan seker dus sê dit is ‘suksesvolle’ mense daardie.
Miskien kan ons eendag ’n wet maak wat bepaal dat, waar die einde van die aarde ter sprake is, dat ons eerder sal staatmaak op mense wat ’n formele studie van die astronomie gemaak het, in plaas van outjies wat hulle ‘bewyse’ op die kortgolf bekom of op hulle eie gebrekkige interpretasie van die verdagte geskrifte wat die woorde van Jesus van Nasaret vasgevang het.
Maar aan die ander kant, miskien moet ek nie self so wet bepleit nie. Miskien moet ek eerder iemand gaan soek wat die antieke geskrifte van die een of ander verlore volk of nasie bietjie ken. Dan werk ons ook saam aan so projekkie...
*(Maar wat is die een enkele ding wat jy kort as jy gou wil ryk word? Die ding wat ek van praat in my eerste paragraaf? – Jy moet net geen gewete he nie. Dis al.)
- Hierdie is ’n uittreksel uit een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.