Of die president nou gefrustreerd, kwaad, desperaat, hartseer, veglustig is of triomfantlik 'n oorwinning vier, hy sing en dans getrou aan sy Afrikatradisie.
Hy het 'n lied vir elke geleentheid. Hy sing Umshini wham as hy sy volgelinge wil opsweep en as hy 'n gehoor wil inspireer en positief stem, sing hy van almal se liefling, Madiba.
Vir die vroue is ons singende Lothario onweerstaanbaar en hulle vergewe hom onmiddellik al sy indiskresies en swakhede as hy heupe swaai en die baritonstem hulle hartsnare roer.
So het hy vir hom 'n Nkandla vol vroue en kleintjies versamel. Toe hy Mbeki vervang het as die ANC, en die land se president, het Angie Motshekga en die hele vroueliga hom gesteun en hulle doen dit steeds.
Dalk besef presidente wêreldwyd eersdaags die waarde van sang om steun en gewildheid te werf en word singende presidente algemeen. Dalk kom daar 'n dag dat die staatshoofde al singende en dansende (met die ernstige, sedige Angela Merkel heel voor) die raadsaal in wals by internasionale konferensies en word president Zuma gehuldig as die "trendsetter" president van die 21ste eeu.
Die gebruik kan moontlik ook posvat by die wêreld se geldmagnate.
Sal dit nie 'n skouspel wees as sake leiers soos Bill Gates, Patrice Motsepe, Tito Mboweni en diesulkes ingehaak ook al singende en bokspringende by Davos in Switserland die konferensiesaal binnekom nie!
Aandele-beurse sal sommer 10 punte styg. Viva!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.