So ry ek nou die aand huiswaarts in my ou grys karretjie wat spog met ‘n massiewe 800cc-enjin.
Eintlik kan jy dit klassifiseer as ‘n motorfiets met deure. In elk geval; die tye wat ek huis toe ry wissel gewoonlik af in die aande. Die nood vir sigarette of melk of brood of brandstof bepaal gewoonlik ook my roete.
Hier sit ek die betrokke aand en sing lekker saam met my radio (met een luidsprekertjie ) terwyl ek bestuur. Ai, ek geniet dit so, want my vrou is gewoonlik nie saam wanneer ek huis toe moet ry nie, so ek kan sing en kletsrym na harte lus. Ninja en Eminem kry vir julle…
Kyk, my kar se enorme enjinkrag laat my nie toe om baie vinnig te ry nie. Sodra ek 100 haal voel ek hoe die deure wil-wil afruk. Na die tweede keer dat dit gebeur het ek maar besluit om by die spoedgrens te hou, ja, ek kom amper ‘n uur later by die huis, dis nie wat nou saak maak nie.
‘n Ding wat my vreeslik afsit, is wanneer my geklestrymery van Liefling of Blouberg se Strand onderbreek word. Dit. Sit. My. Af.
Soos ek ry, begin ek iets deur my spieeltjies gewaar. Net so elke nou-en-dan sien ek ‘n kollietjie. Ek het begin wonder of dit nie ‘n brommer kon wees nie. Skielik (deur my Afrikaanse-Medley CD wat speel) hoor ek ‘n muskiet. Altans ek het so gedink. Ek het gehoop en bid dat dit ‘n muskiet was want ek is vreeslik bang vir bye.
Die ge-zoemery het harder geword en dan sagter. Dit het my konsentrasie verbreek terwyl ek die trok voor my en die taxi langs my ook moet dophou. Ek is ongelukkig nie skeel nie, alhoewel my een ogie effens trek wanneer ek moeg is. Albei voertuie het probeer stadiger as ek ry. Ek het gewen!
Na 10 minute se uitmergelende kompetering met die twee voertuie (veral die taxi langs my – kyk hulle is baie baie kompeterend!) het die taxi besluit om maar af te draai waar hy nie eintlik kon nie en dit het veroorsaak dat die muskiet se gezoem weer hoorbaar kon word. Stelselmatig het dit harder geword, totdat ek kon uitmaak dat dit wel ’n motorfiets is en nie ‘n muskiet nie (nota aan leser: ek noem nie motorfietsryers muskiete nie).
Die outjie het nogal “cool” gelyk met sy rooi en wit leer baadjie, die tannie agterop die motorfiets was ook nogal iets vir die oog. Sy het lang blonde hare gehad wat lekker deur die wind gewip het terwyl sy lewensgroot glimlag. Die man met die baadjie se hare was ook nogal lank. Snaaks (ek dink nou eers daaraan), die man en die vrou het dieselfde bou gehad, al wat van agteraf verskil het was die haar kleur. Miskien was dit ook ‘n vrou...
Die motorfietsryer, of te wel, “Biker” het by die kompetisie (nou tussen my en die trok ) kom aansluit. Ek dink die taxi het hom op een of ander manier ge-tag (soos wat hulle in stoei doen) of die aflosstokkie vir hom oorhandig, ek weet nie, maar hy was ook nou deel van ons dice.
Vir so vyf minute (ek kan nie die presiese durasie onthou nie, want die vrou se bene was nogal heel aandagversteurbaar.) het ons resies gehou. Elke nou en dan het die biker sy “revs” opgeskiet net om seker te maak ek en die trok weet hy is nog in die resies.
Die geraas het my mal gemaak en ek het gesukkel om Meisie Meisie te hoor. Ek het begin hoop die resies was al verby. Ek besluit toe, dis nou of nooit! Ek sit my flikkerlig aan om aan te dui ek wil nou draai. Die bytjie wou nie skuif nie. Die trok wou ook nie vinniger nie. My hart klop in my keel.
Voor ek nog kon dink om “die prinses van die dansvloer” te sing saam met Kurt, skiet die by in die horison in. Met verligting kon ek ook draai en verby die trok gaan. Die trokdrywer wuif nogal vriendelik my verby. Ek dink toe dat hy ‘n baie goeie verloorder was. Mens kry nie meer sulke kaliber sportmanne nie!
Ek ry aan. Rustig. Meisie Meisie het klaar gemaak toe begin ek saam met Juanita Ska-rumba sing, Ai, dis ‘n goeie liedjie (ookal verstaan ek nie aldag hoe die woorde bymekaar pas nie).
Ek hoor weer ‘n gezoem. Ja. Ek was reg. Dis weer my opponent op die motorfiets. Ons kom by meer verkeer. Vir een of ander rede jaag hy zig- zag deur al die karre. Hy jaag verby stilstaande motors. Hy jaag oor die rooi robot. Wag. Ja. Die geel kar gaan hom mis. Ja. Wow! Wat ‘n vernuftige verbygangslag en koesery. Wel gedaan ou maat!
Ek kry hulle by die volgende robot weer. Sien, hy moes langer vir die rooi lig wag as ek, want hy het gejaag soontoe, en ek het my slakkepas volgehou. Soos ‘n Max Biaggi jaag hy weg presies toe die lig groen word, en daar gaan hy. Ek het begin sleg voel. Ek het begin dink hy is kwaad vir my omdat ek die stadigry-wedren gewen het – wel, hy het opgegee dink ek ook by myself. Ek het nie tyd vir slegte verloorders nie! Vat jou pak soos ‘n man!
In elk geval, dié aand moes ek sigarette koop. By die kafee, vinnig die R18 gegee (dit was klaar reg, en ek was ‘n regular, so hulle het net gevra een pakkie of twee ). Een pakkie dankie. Nie eers ‘n minuut nie. Ek is vinniger as my kar.
Op pad.
Wag. Wat is dit by die vier-rigtingstop?
Dis my mater!
Wat is ander kant die pad?
Dis ‘n kar.
My jaagduiwel maat is darem orrait.
Sy spanmaat, die dame, is dood.
Die oom in die kar, wel, hy het op die sypadjie gelê bewegingloos. Polsloos. Dood.
Die resies is verby. Vir ewig.
Ek weet nie hoe die oom betrokke geraak het nie, miskien wou hy saam resies hou? Miskien was hy slegs ‘n onskuldige bystander op die verkeerde plek op die verkeerde tyd? Ek weet nie.
Al wat ek weet is: indien ek nie gestop het by die winkel nie, sou ek en die biker se spanmaat (of die biker) seker tot in lengte van dae in die Hemel nog resies gehou het…
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.