Ons is almal mense, en omdat ons mense is, gaan ons almal op een of ander stadium deur dieselfde struwelinge van pyn, hartseer, blootstelling aan kritiek ensovoorts. Dis net dat dit my wil voorkom asof ons uitgewekenes in die buiteland meer as ander mense hieraan blootgestel word, en daarvoor is ek nou al – om die minste op die mooiste manier beskikbaar te sê – uiters keelvol.
Sonder skroom word ons aangeval as die landsverraaiers wat nie die “punch” kan vat nie; en dat ons ons bietjie goedjies bymekaar grawe om op die eerste, beste vlug landuit te gaan. Wanneer ons ‘n simpatieke oor nodig het, kry ons dit nie sommer nie, want, sê die agtergeblewenes, ons verdien ons pyn; ons wou mos gaan soek vir groener weivelde!
Maak ons ons monde oop oor die politieke en ekonomiese aangeleenthede in Suid-Afrika, word ons vermaan dat ons maar eerder moet stil bly, want ons het ons reg tot ‘n opinie opgegee die dag toe ons met die stert tussen die bene gevlug het. Die veronderstelling is dat slegs die agtergeblewenes ‘n reg tot ‘n opinie het. Dis duidelik in koerantkommentaar hoe ons aangeval en verneder word, bloot omdat ons ‘n ander heenkome gesoek het; maar niemand verstaan (of gee om) oor ons redes nie. Vir hulle is ons verraaiers – uit en klaar!
Dan is daar diegene wat ons SAFFA’s weer aanval omdat ons nooit ons “b*kke oopmaak” om die gehawende toestande in die land onder ander se aandag te bring nie. Dit sien ek nou weer met ‘n onlangse artikel oor Charlize Theron wat Jacob Zuma (let wel, ek gebruik nie sy titel nie, want volgens my verdien hy dit nie) in Davos, Switserland tydens die Wêreld Ekonomiese Forum ontmoet het, en om dinge te vererger, nog saam met hom op ‘n foto verskyn. Mense sê sy’s kommin, sy gee nie om vir haar land nie (natuurlik gee nie een van ons landsverraaiers om vir ons land nie!), en dat sy ‘n skande vir Suid-Afrika is en nog talle ander negatiewe kommentaar volg. Verder word sy aangeval omdat sy ‘n enkel-ouer is en ‘n swart kind aangeneem het. “Hoekom nie ‘n wit kind nie?” word daar gevra. Of, “Wat probeer sy nou eintlik bewys? Daar is honderde verarmde wit Suid-Afrikaanse kinders vir wie sy kon aanneem.”
Mense is kwaad, ja! Mense is ongelukkig, ja! Mense soek rede om hulle frustrasies op ander uit te haal, ja! En, ongelukkig is ons landsverlaters die objek hiervan. Soos Apartheid blameer word vir als wat verkeerd gaan, word ons buitelandse Suid-Afrikaners oor dieselfde kam geskeer.
My vraag is: wanneer wen ons vir ‘n slag? As ons ons monde oopmaak om iets te kritiseer wat nie goed is nie, word ons uitgejou as slegte honde wat verdien om in ellende te lewe – ‘n lewe vol luise en vlooie, want ons het mos daarvoor gesoek. Aan die ander kant, as ons ons monde NIE oopmaak nie, word ons ook uitgejou en veroordeel as slegte Suid-Afrikaners wat nie welkom is in die land nie; en dat ons maar moet bly waar ons is. Die vraag is: wanneer moet ons praat, en wanneer moet ons stilbly? Van ons word verwag om op te tree as ambassadeurs van ons land, maar ons word nie ‘n ordentlike kans daartoe gegun nie.
Ek het in ‘n onlangse skrywe van my vertel van my vrees vir my komende vakansie in Suid-Afrika, en als wat daarmee gepaard gaan – veral vrees vir geweld, en selfs daar het kommentaar gewissel van “ag, dis nie so erg nie” (hoekom moet ek, Charlize of enige ander expat dan die moeite doen om ons land te verdedig?) tot “ons het nie negatiewe Suid-Afrikaners in die land nodig nie.” Dan word daar voortborduur hoe ek maar moet bly waar ek is, want ek is mos “gelukkig” hier!
Wat is die eintlike situasie dan regtig in Suid-Afrika? Moet ons as uitgewekenes ambassadeurs vir ons land wees, of moet ons eerder ons bekke hou? As ons in die buiteland toegelaat word om te stem waar ons is, sal ek sonder twyfel my kruisie gaan trek waar ek dit nodig ag. Maar wat kan ek daaromtrent doen as daar van my verwag word dat ek binne die landsgrense moet wees om te mag stem? Dis darem verregaande om van my te verwag dat ek ‘n vliegkaartjie teen R18,000 moet koop slegs om my kruisie te maak. En selfs al trek ek die kruisie, sal ek nogsteeds net ‘n buitelandse hond wees.
My gebed vir 2013 is dat mense in Suid-Afrika ons minder stief behandel, en ons ‘n regmatige kans te gee tot ‘n gelukkige lewe wat ons verdien. Ons is nie straathonde met ‘n ongeneeslike velsiekte nie!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.