Ek sien hier op die internet ’n baie ontstellende en waar plasing. Oor die stakings.
Die hele ding is so gemors. Hoe baie mense gaan hulle werke verloor? En dit is so pynlik vir my, as lid van die kerk, wat Johan Swarts alles skryf. Maar as wat hy sê waar is, dan moet ek ongelukkig saam met hom stem.
Die rede hoekom so baie knap boere vandag in die buiteland boer, is omdat die landbou in Suid-Afrika nie meer lonend is nie. Ek sweer, as ek self vandag ’n klomp florerende plase verniet kry, dan sal ek nie eens begin oorweeg om te boer nie. Ek sal nie eens voormanne aanstel nie. Ek sal die hele spul net so verkoop en aangaan met die lewe. Dat mense wat waarlik die passie het dit maar liefs aanpak.
Dit is gevaarlik om ’n boer te wees in Suid-Afrika. Jou lewe is meer in gevaar as die van ’n Suid-Afrikaanse polisieman/ vrou. En dan is daar die ding van grondsekuriteit. Ons sit almal en wonder oor wat gaan gebeur as gevolg van die stadige pas van transformasie. Hoe gaan die onteienings plaasvind?
En meng dan nou boonop hierdie ding van werksekuriteit in die hele gemors in... Wat bly oor? Wat kry ’n boer vir sy produk by die mark?
As die petrolpryse styg, dan styg die voedselprys. As die belastingprys styg, dan styg die voedselprys. As die inflasieprys styg, dan styg die voedselprys. Maar kry boere ooit meer vir hulle produkte?
Daar is geen sekuriteit nie. Hoekom sal enige mens op aarde wil boer onder sulke omstandighede?
En dan, om alles te kroon, soos Johan opmerk, is die kans daar jy kry nog sommer vir God ook teen jou. En mens wen nie vir God nie. Jy kom tweede...
Maar die ironie, soos so dikwels in Suid-Afrika, is, soos Johan tereg opmerk, dat die rasgrense baie meer troebel is as wat mense soms dink. Daar is vandag baie swart en ‘bruin’ boere. Die feit is dat niemand presies weet hoeveel grond presies in swart hande vandag is nie. Toe ’n lid van die opposisie op hierdie feit gewys het ’n tyd gelede, is hy summier as ’n rassistiese tipe mens afgemaak deur talle. En tog moes die regering later toegee – ons weet nie.
Ag ja, maar een ding staan vas, en dit is mens kan net nie teen God wen nie.
Maar hopelik kry God weer een of ander tyd ’n change of heart. Soos ek die geskiedenisboeke lees is God genadiglik nogal geneig daartoe.
- Hierdie is ’n uittreksel uit een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.