Die Israeliete moes op God staatmaak om hulle uit die wurggreep van slawerny deur die Egiptenare te bevry!
Daarvoor het God die tien plae ingespan. In ons hedendaagse lewe kan 'n mens nie anders om die korrupsie wat so hoogty vier, vergelyk met die sprinkaanplaag wat na dekades nogsteeds miljarde skade aanrig, nie!
Sprinkaanplae verwoes landerye, plantegroei en bykans alles wat in die pad staan, en laat 'n dor, naakte en barre landskap agter.
Hoe die plaag homself uitwoed, is in sommige gevalle onseker, maar een ding staan soos 'n paal bo water: 'n einde moet daaraan kom of gemaak word!
Die "ringkoppe" en die "hoë-lui" wat daagliks betrap word met die vinger in die pastei, sal dit moet begin besef, wandade gaan nie ongestraf gelaat word nie. Hul gierigheid, ten koste van ander, sal op die lang duur openbaar word met gevolge waarvoor hulle hulself sal moet blameer.
Hulle besteel die armes en verorber alles wat in hul pad staan, so veel, as wat hulle in 'n kort tydjie kan vat, en laat chaos, verdriet en lyding agter.
As 'n bonus kry hulle nogal 'n "tik op die vingers, vyfster- hospitaalbehandeling of word verplaas na ander departemente of kry ander portefeuljes waar hulle net weer voortgaan met hul "sprinkaan-plaag"-aktiwiteite!
Die sprinkaanplae in Bybelse tyd was geskep om die mense te bevry; hier in Suid-Afrika word dit letterlik gebruik om mense te verarm en onder die juk van armoede en ellende gebuk te hou!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.