Ek lees dat 33% van alle Suid-Afrikaanse mans en tot 66% van Suid-Afrika se vroue aan vetsug ly. Die koste verbonde aan hierdie epidemie is natuurlik astronomies. Die staat kreun as’t ware onder die vetrolle.
Om van die skade wat rook doen nie eens te praat nie...
Maar ek wil dit vandag waag om te beweer dat baie Suid-Afrikaners, inderdaad baie mense op aarde, waarlik tot ’n groot mate slagoffers is. Natuurlik is elke mens vir hom/ haarself verantwoordelik. Maar in Suid-Afrika sit ons vasgevang in wat ek nie anders kan as om te beskryf as ’n kultuur van swak eet nie. Verkeerd eet is waarlik so deel van ons as wat rugby en braaivleis is.
Ek onthou jare gelede, toe ek nog ’n kind was, toe maak die een tannie van my die een dag vir my kos. En ek kan nie presies onthou wat dit alles behels het nie, maar dit was ’n ordentlike bord ‘Boerekos’, of dan nou ‘kookkos’, soos ons dit leer ken het.
En dit het altyd ’n kombinasie van die volgende behels. Ten minste één tradisionele ‘stysel’. Ten minste. Dikwels meer as een. Hierdie ‘stysels’ het tipies uit die volgende bestaan: rys, stampmielies, koring en aartappels.
Dan die vleis. Daar was altyd vleis. Altyd ten minste een vleisgereg. En gladnie ongewoon as daar twee is nie.
En dan die groente. Wortels, pampoen, beet, ertjies en boontjies. Die boontjies is dikwels gemeng met aartappel. So ook tipies die spinasie. En saam met daai spinasie/ aartappel... vet. Tipies botter.
Sélf het jy hierdie tipe ete as goeie, gesonde, maar bowenal gebalanseerde kos beskou. Dit bevat tog drie groente dan nie? Soos die dokter aanbeveel. En dit smaak hemels. Hoe kán dit dan nou ‘sleg’ vir jou wees.
En hoekom onthou ek dié spesifieke dag met my tannie só goed? Wel, ek het dié dag die ondenkbare skande gepleeg deur ‘net een keer te skep’. Geen tweede porsie nie.
Ja né. Só is dit in baie boerefamilies. Die kostafel is ’n plek waar jy in jou spoor moet trap. Eintlik is dit beter as jy jou skoene uittrek daar. Want dis heilige grond. En om ’n tweede porsie van hulle kos te weier is so goed jy verwerp hulle God.
En as jy iets grensend aan ’n oorlog wil sien, dan kritiseer jy die kos. Jy sê die ete bevat te min komplekse stysels en te veel suiker en toegevoegde vet. Die heel heel ergste verraad, so het ek dit al self beleef, is om jou eie slaaitjie gou-gou aan mekaar te slaan om saam met jou stukkie vleis te eet. Gou-gou kan dit lelik raak – o so ou Barend, my kos is nie goed genoeg vir jou nie, en ék is ook seker nie goed genoeg vir jou nie né?!
En so eet ons onsself siek. Jaar in en jaar uit. Boervroue laat die tafels kreun onder hierdie ongebalanseerde geregte. En pappa glimlag nét so breed en hy soen vir mamma diep en innig terwyl hy die strome water moet wegsluk soos die aptyt gewek word.
En die ergste van alles is, ons dink daai kos kan onmoontlik ‘ongesond’ wees. Ons dink ‘ander mense’ eet ongesond. Nie óns nie.
En dit is nie net ’n ding wat die ‘Boere’ doen, hierdie ding van ongesond eet nie. Om verkeerd te eet en te glo jy eet reg is uiteindelik in ons kultuur ingeweef. En selfs al weet jy van beter (en baie mense weet régtig nie van beter nie), hoe ontsnap jy die kultuur? Hoe sê jy ‘nee’ sonder om ’n broedertwis te begin wat oor generasies kan strek?
Dit is net so onmoontlike taak soos om ’n roker te oortuig om op te hou. Dit is eintlik maar ’n verlore stryd.
Ten minste is die gety darem besig om teen rook te draai. Maar wat kos betref is ons besig om te verloor.
- Hierdie is ’n uittreksel uit een van Barend se jongste blogs.
GESELS SAAM: Stem jy saam met die skrywer? Laai jou mening hier.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.