In Suid-Afrika is een van die struikelblokke wat in die pad staan van die fenomenale groei wat e-boeke in die ontwikkelde lande toon, die beskikbaarheid van bekostigbare e-lesers. Kobo het besluit om Afrika nou deel te maak van die groeiende e-boek-mark.
Kobo het onlangs bekend gemaak dat hul bekroonde Kobo Touch e-leser vanaf November by Pick n Pay winkels en aanlyn in Suid-Afrika verkoop gaan word. Kobo is een van die voorlopers in die e-lees veld wêreldwyd. Dit is wonderlike nuus vir liefhebbers van Afrikaanse e-boeke.
Die doemprofete wat glo dat e-boeke nie werklik sal posvat in Suid-Afrika nie word deeglik verkeerd bewys deur Pick n Pay se toetrede tot die digitale mark.
Volgens Bronwen Rohland, die Besturende Direkteur van Pick n Pay is daar geen manier om weg te kom van die werklikheid dat die wêreld al meer digitaal gefokus word. Deur die Kobo-leser teen ‘n mededingende prys beskikbaar te stel word e-boeke nou meer toeganklik tot die Suid-Afrikaanse mark.
Die Kobo-leser is op die mark gebring as teenvoeter vir die Kindle-lesers van Amazon. Die Kobo-leser se bekendstelling is ‘n groot verligting vir gebruikers wat al hoe meer ongemaklik word met die geslote sisteem van Amazon.
Amazon se lesers besit nie die e-boeke wat hulle gekoop het nie en die boeke kan enige tyd deur Amazon van jou rekening verwyder word.
Techdirt waarsku gebruikers al jare dat hulle nie die boeke besit op hul Kindle-leser nie. Nou het Amazon gedoen waarteen hulle gewaarsku het en ‘n gebruiker in Noorweë se rekening gesluit en al die boeke op haar Kindle-leser ontoeganklik gemaak.
GESELS SAAM: Besit jy ’n e-leser?
- Hierdie is ’n uittreksel uit blogger Andre se jongste blog.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.