Ek, en almal om my, sien al hoe meer tekens dat mense ongelukkig is met die stand van sake in die land. Daar gaan deesdae nie 'n week verby sonder dat daar 'n paar diensleweringsbetogings of stakings is nie.
Dié betogings word gewoonlik gereël deur diegene wat heel onder op die leer van die samelewing is – die mense wat al jare lank beloftes hoor, maar geen verandering in hulle omstandighede sien nie.
'n Mens kan nie anders as om simpatie met hulle te hê nie. Dit moet vreeslik wees om in omstandighede vasgevang te wees waaruit jy eenvoudig nie kan kom nie.
Die doel van hierdie skrywe is nie om die regerende party te kritiseer nie – ek het nie nodig om enigiemand te oortuig van enige politieke punte nie. Wat ek egter wel wil doen, is om daarop te wys dat die toekoms al hoe meer onseker lyk.
Ek kyk na die xenofobiese aanvalle 'n paar jaar gelede as 'n voorbeeld. Dit het uit die bloute gebeur. Ongelukkigheid wat onder die oppervlak geheers het, het skielik oorgekook en uitgekom in 'n vlaag gewelddadige botsings.
Op die oomblik is ons politici "seker" dat opstande soortgelyk aan die wat met die Arabiese Lente plaasgevind het, nie hier sal kop uitsteek nie. Tog wil ek waarsku: so iets gebeur skielik, en onverwags.
As ons politici dink dat hulle so 'n opstand van ver af sal sien aankom, en genoeg tyd sal hê om die nodige maatreëls in te stel om dit te vermy, maak hulle 'n groot fout.
Wanneer mense diep ongelukkig is, neem dit net 'n enkele katalisator (gewoonlik in die vorm van een of ander klein gebeurtenis) om dinge te laat oorkook.
Ek dink daar is rede tot kommer oor die toekoms – een of ander vorm van opstand oor die huidige sosio-ekonomiese situasie in die land is onafwendbaar. Hoe gouer ons heersers dit besef, hoe beter sal dit wees vir almal.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.