Wie was Jesus werklik?
deur Johan Jooste
2011-12-23 08:00
Wie was Jesus werklik? Watter voorstelling oor Jesus is korrek?
Hierdie vrae word gereeld aan die orde gestel, nie net in meer ernstige literatuur nie, maar ook in die media en in gewone gesprekke.
Die boek van dr. Henry Stone, Man van Nasaret: Wie sê die mense is Ek?, handel oor hierdie onderwerp, maar daar is interessante verskille van die ander boeke in hierdie genre.
Die belangrikste is dat dit nie deur ‘n teoloog geskryf is nie, met al die implikasies daaraan verbonde. Dit verklaar waarom hy op ‘n vars manier met sy materiaal omgaan. Hy het duidelik ‘n passie vir sy onderwerp, maar anders as wat so dikwels in boeke met ‘n behoudende inslag gebeur, is die styl sober en helder. Wie ‘n geykte soetsappige Jesusboek verwag, sal teleurgestel wees.
Soos ‘n goeie opvoedkundige – hy was hoogleraar in die opvoedkunde en ook ‘n Bybelkundedosent – formuleer hy uiters goed en dit is opvallend, ook uit die literatuurlys, dat hy hom deeglik in sy onderwerp verdiep het. Hy probeer soveel moontlike standpunte weergee, maar sy eie standpunt is onbeskaamd behoudend (ortodoks, in sy eie woorde).
Heelwat aandag word aan die filosofiese agtergrond van die onderskeie standpunte gegee. Die skrywer maak, myns insiens tereg, die stelling dat predikante in hulle voorgraadse studie blootstelling aan bepaalde filosofiese rigtings kry wat hulle teologie later in ‘n bepaalde rigting stuur. Hierdie filosofiese voorveronderstellings word dikwels onkrities aanvaar en dit kleur uiteindelik ook hulle siening van die historiese Jesus. Dit is daarom nodig om die filosofie wat aan die verskillende denkrigtings ten grondslag lê, te ontbloot, soos wat hy dan ook doen.
Wie behoort hierdie boek te lees?
Dit verdien ‘n wye leserskring en behoort deur elkeen wat in die vraag oor die ware Jesus belangstel, gelees te word.
Veral vir behoudende en denkende lidmate wat ‘n goeie oorsig met goed beredeneerde standpunte oor die debat oor Jesus verlang, is hierdie boek ‘n aanwins.
En vir diegene wat na “ander weë” kyk? Lees gerus hierdie boek! Dit gee ‘n vars uiteensetting van die onderskeie denkrigtings en kom met daardie argumente wat denkende lidmate aanspreek en waarop daar nie altyd deur kritiese teoloë goed genoeg geantwoord word nie. Mens wonder wel by geleentheid of hy ‘n bepaalde standpunt goed genoeg verstaan – veral as jou eie standpunt aan die bot kom.
Maar dit is goed so, want dit wys op die noodsaak van verfyning in jou eie denke en formulering. En dit laat jou weer bewus word van jou eie filosofiese vertrekpunt, die sterk punte en die leemtes daarvan. Om ‘n aanhaling uit die boek te gebruik: Nie net optiese illusies nie, maar ook intellektuele illusies is moontlik (214).
‘n Foutlose boek? Nee. Dit is ‘n goeie boek, maar afhangende van jou eie standpunt, kan mens ook kritiek daarop lewer. Self meen ek dat die skrywer nie sy eie (Platoniese/ idealistiese?) filosofiese agtergrond genoeg herken nie en dat hy te onkrities met die vroeë kerk se filosofiese raamwerk omgaan. Die gevolg is dat hy soms die historiese Jesus vanuit die vroeë kerk se dogmas in die Nuwe Testamentiese geskrifte inlees en die Nuwe Testament te veel as ‘n geslote dokument, wat nie self ‘n ontwikkelingsgang het nie, hanteer.
Hierdie boek is ‘n aanwins vir diegene wat ‘n intense verlange het dat ‘n teologiese debat in Suid-Afrika ontstaan wat van histerie gestroop is en ‘n onbevange standpuntstelling toelaat. Dit stel ‘n bepaalde standpunt goed en op ‘n nugter wyse word die onkritiese filosofiese vertrekpunte van die ander standpunte uitgewys. Vir mense wat ernstig oor die Christelike geloof is, nooi dit tot nadenke en debat uit.
(Dr. Jooste is ’n teoloog en skryf vryskut.)
Het jy onlangs ’n interessante boek gelees? Skryf ’n resensie en stuur dit vir ons.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.