Een van die dinge wat my deesdae vreeslik pla is die gebrek aan gevolge wanneer ministers en ander topbestuurders foute maak.
Die regerende party se beleid van "herontplooiing" is hier ter sprake.
Wanneer 'n minister of ander politikus 'n fout maak, of selfs 'n kriminele oortreding begaan, word hulle bloot na 'n ander posisie geskuif.
Dit getuig vir my nie net van 'n gebrek aan morele rigting in die regering nie, maar ook van 'n gebrek aan integriteit by die individue wat so "herontplooi" word, wat maar net te gewillig is om 'n nuwe posisie en 'n nuwe salaris te aanvaar. Dit alles gebeur sonder dat hulle ooit regtig boet vir hulle dade.
Ek sal nooit die storie van die Britse minister David Blunkett vergeet nie. Blunkett was, terwyl ek in 2004 en 2005 in Engeland gewoon het, een van die sleutelfigure in Tony Blair se kabinet.
Hy het egter 'n fout gemaak. Hy het sy voormalige minnaar se kinderoppasser gehelp om haar visum goedgekeur te kry. Daar was geen grootskaalse bedrog nie; geen sprake van miljoene ponde of verskriklike korrupsie nie. Hy het bloot gevra dat die proses om haar visum goed te keur, bespoedig word.
Daarvoor het hy behoorlik betaal. Toe die nuus aan die lig kom, het hy dadelik uit sy posisie bedank. Hy het die bevindings van 'n ondersoek oor die aangeleentheid net so aanvaar, en die tuig neergelê sonder om terug te veg. Die rede? Hy het genoeg integriteit gehad om te besef jy kan nie in so 'n hoë posisie so 'n fout maak, en net aanvaar jy kan aangaan asof niks gebeur het nie. Hy het uit sy posisie getree, en die gevolge van sy dade aanvaar. Dit het van hom op die ou end 'n beter politikus gemaak.
By ons leiers sien ek iets heeltemal anders. Wanneer hulle foute maak, stry hulle tot die dood toe dat dit nie hulle skuld is nie. Hulle werk aan asof niks makeer nie, en sal dan later net in 'n ander posisie ingedruk word.
Dit sê vir my iets van die integriteit van so 'n persoon. Wanneer jy nie die vermoë het om jou foute te erken nie, en wanneer jy nie die bereidwilligheid het om die prys daarvoor te betaal nie, sê dit vir my iets van die agting wat jy vir daardie posisie het. Dit sê vir my jy is tevrede met korrupsie, bedrog en oneerlikheid.
Dis asof integriteit opsioneel geword het.
Ek wens die dag kan weer kom waar ons leiers verantwoordelikheid aanvaar vir hulle foute, en genoeg integriteit het om uit hulle posisies te tree. Ek wens ook vir die dag wat die regering nie meer mense wat nie die integriteit het nie, help om voort te gaan asof niks gebeur het nie.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.