Weereens vaar pres. Robert Mugabe op die internasionale verhoog teen van die grootste moondhede en organisasies in die wêreld uit, en weereens is die wêreld doodstil daaroor.
Kan iemand vir my sê hoe dit werk?
Ek moet sê, toe ek gehoor het Mugabe gaan die VN se Algemene Vergadering in New York toespreek was ek verbaas. Ek het nie geweet iemand met sy reputasie kry nog die geleentheid om te sê wat hy wil, wanneer hy wil nie. Wie besluit om die mikrofoon te gee vir iemand wat so gereeld soveel onsin kwyt raak?
Die manier waarop hy die hartseer saak van die dood van die Amerikaanse ambassadeur in Libië, Chris Stevens, aangeroer het, was in swak smaak. Maar wat anders kan 'n mens van hom verwag?
Deur te sê die dood van die wrede diktator Muammar Gaddafi is net so tragies soos die dood van Stevens, 'n vredeliewende mens wat 'n positiewe bydrae wou lewer, maak hy 'n absolute bespotting van die platform wat hy het om wêreldleiers en die internasionale gehoor toe te spreek.
Dis een ding as Mugabe in sy eie land gal braak oor alles en nog wat. Dis een ding as hy in Zimbabwe in sy eie agterplaas die kollig steel en in die media sê wat hy wil.
Dis 'n heeltemal ander saak as een van die grootste vredesorganisasies in die wêreld, die VN, hom 'n kans gee om sy onsin voor die hele wêreld kwyt te raak.
Mugabe maak 'n bespotting van die positiewe bydrae wat goeie, hardwerkende mense tot die wêreld wil maak. Wanneer hy die geleentheid gegun word om op luisterryke geleenthede sy gif te spoeg, moet 'n mens begin wonder hoekom hy hoegenaamd nog die kans kry om dit te doen.
Ek hoop nie Mugabe kry ooit weer die kans om op 'n ernstige platform soos dié van die VN sy sê te sê nie.
Daarvoor het hy genoeg kans in sy eie land.
Wat is jou mening oor dié saak? Deel jou mening in die kommentaarvenster hieronder, of stuur jou eie bydrae hier.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.