Daar is baie menings om die braaivleisvure of e-boeke die gedrukte boek se grafskrif gaan skryf.
Dalk nie! Volgens Eric Limer is die boek wat ons vandag ken “low-tech”, of te wel 16de eeuse tegnologie. Die drukgehalte van boeke het verbeter, ander bindmetodes word gebruik en dit word goedkoper vervaardig. Tog is ‘n boek so half uit pas met die nuutste tegnologie wat nou deel is van ons algemene lewe. Die boek het regtig op die ossewa hier aangekom.
Die boek van die toekoms sal ‘n hardeware-uitbreiding van die persoonlike rekenaar wees. Gooi jou sleutelbord en muis weg en beheer jou persoonlike rekenaar met ‘n boek. ‘n Poolse ontwerper het met ‘n baie interessante ontwerp vorendag gekom.
Waldek Wegrzyn het ‘n prototipe elektro-boek geskep wat mense nuut sal laat dink oor toekomstige verbinding en kommunikasie tussen ‘n boek en ‘n rekenaar.
Boeke en e-boeke sal in die toekoms geëntegreer wees met ‘n internet webwerf. Wegrzyn noem sy elektro-boek die elektrobiblioteka wat Pools is vir elektroniese biblioteek. Die elektro-boek is ‘n half kuns en half rekenaarhardeware ontwerp. Die elektro-boek is vol elektronika en kan met ‘n spesifieke program met die rekenaar kommunikeer. Hierdie prototipe gaan verseker die elektroniese ontwikkelingspanne in die wêreld aan die dink sit.
Die koerant wat jy op die straathoek koop kan moontlik in die toekoms van elektroniese papier gemaak word wat beteken dat dit sal kan kommunikeer met die aanlyn-webwerf van die koerant. As ‘n leser kommentaar lewer met ‘n pen in die koerant, sal dit onmiddelik verskyn op die webwerf van die koerant en sosiale netwerke. Dink net aan die impak wat dit kan hê op studente.
‘n Student kan moontlik eenvoudig ‘n nota neem sommer in ‘n voorgeskrewe handboek en die nota is onmiddellik beskikbaar in die woordverwerkingprogram op hul persoonlike- of tabletrekenaar. ‘n Stylvol gedrukte dagboek waar inskrywings onmiddelik verskyn op ‘n persoon se aanlyn-dagboek of blog, sal die nuutste statusproduk wees vir die suksesvolle beroepsmens.
Navorsing toon ook aan dat voordat die e-boek-konsep werklik byval by kinders en jongmense sal vind, e-boeke meer interaktief sal moet word. Wie was as kind nie mal oor boeke waarvan die driedimensionele flappe kon oplig om die verhaal verder toe te lig nie? Dink aan ‘n elektro-boek as ‘n digitale opwipboek.
LG het vroeër die jaar die eerste stap gegee na die boek van die toekoms, met die bekendstelling van buigbare e-papier. Die buigbare plastiekpapier het ‘n resolusie van 1024 x 768 en kan tot 40 grade buig. Die skerm is slegs 0.7 millimeter dik en weeg slegs 14 gram.
- Hierdie is blogandre se jongste inskrywing op sy blog.
GESELS SAAM: Gaan die e-boek die gedrukte boek se grafskrif skryf? Vertel ons hier.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.