Ek het die pas afgelope Sondag (4 November) ’n wonderlike, wonderlike ervaring gehad.
Ek was nog nooit by ’n groot sokkerwedstryd nie. Ek het al die Proteas gesien speel. Die Springbokke. Ek het al verskeie Curriebeker-spanne in aksie gesien. Maar ’n groot sokkerwedstryd – nog nooit.
En nou is dit so dat ek die laaste tyd uitgehonger is vir goeie sport. En die rugbyseisoen is nou verby. En boonop was dit maar ’n droë jaar vir my span – die Cheetahs.
So besluit ek toe hierdie afgelope Sondag om my heel eerste groot sokkerwedstryd te gaan kyk op ’n stadion. Bloemfontein Celtics teen Orlando Pirates. In ’n Telkom uitdagingbeker-wedstryd op Vrystaat Stadion.
En dit was waarlik iets besonders.
Wat my die meeste beïndruk het, behalwe nou vir die opwindende spel op die veld, is die wonderlike atmosfeer waaraan die hele wedstryd gekenmerk was. Ek onthou die laaste keer toe ek nog by ’n Curriebeker-wedstryd was. Dit was in 2012 nog.
Ek sê hierdie nou glad nie omdat ek suur druiwe het oor die WP se oorwinning in die finaal nie, inteendeel, ek was bly vir WP dat hulle bietjie kon wen. Maar dié dag was daar ’n poepdronk WP-ondersteuner wat die hele wedstryd vir almal op die paviljoen probeer ruïneer het. Hy én sy ander dronk geesgenote. Dit was so erg dat die polisie uiteindelik vir hom, met sy lastige vlag en al, moes kom verwyder uit die stadion.
Hierdie tipe ding het ek nie Sondag ervaar nie. Daar was wel gedrink ja. Maar die gees was goed. Die meeste sokkerkykers is hartlike mense. Daar was geen een enkele insident waarvan ek bewus was nie. Ek kan nie eens onthou dat ek ’n enkele mens hoor vloek het of in swak smaak met en van andere gepraat het, soos wat mens maar al te dikwels by die rugby kry nie.
Om die waarheid te sê, daar was heelwat mense wat met hulle kleuters daar rondgesit het. Hoeveel mense is deesdae nie ongemaklik om hulle kinders rugby toe te vat nie?
Maar die mees fassinerendste is die sang wat daar by só ’n wedstryd plaasvind. Die Celtics-ondersteuners het meestal aan die linkerkant van die oop paviljoen saamgedrom (dit is nou links van jou as jy op die halflyn sit op die oop paviljoen en jy kyk in die rigting van die hoofpaviljoen). Die grootste gros was agter die doelhoek. Daar het hulle gesit met hulle kenmerkende groen truie en kepse en wat nog alles. En in teenstelling met byvoorbeeld by die rugby, word die hele paviljoen lewendig soos wat ondersteuners soos een man liedere sing om hulle span te ondersteun.
Daar is iets amper spiritueel aan sportgebeurtenisse. Ek het dit net weer besef hierdie naweek. Natuurlik moet mens nie ’n slaaf word van sport nie, maar ek kry mense wat sport verafsku baie jammer. Die vreugde van ’n doelskop wat verby ’n doelwagter seil bind vreemdelinge saam soos wat hulle andersins nooit sou nie. Net so ook die teleurstelling van ’n verloor – selfs dít is iets wat mense kan saambind.
Ek wil sê dit is dalk juis mense wat saam kan swaarkry wat die wonderlikste bande smee.
Tot my spyt het ek nie tot aan die einde gebly nie. Want toe Pirates 3-1 voorloop, toe het ek geen manier gesien waarop Celtics gaan terugkom nie. En ek het ander verpligtinge ook gehad, wat my toe laat pad vat het. Dit is waarlik jammer, aangesien Celtics toe uiteindelik teruggekom het en die wedstryd gewen het met doelskoppe.
Maar ek beplan om dalk die 11de weer te gaan kyk as Celtics weer in Bloemfontein speel. Teen R40 is dit ’n bargain. Ek het jare lank gerook en R40 is glo amper maar wat ’n pakkie sigarette vandag kos.
Dit is ’n groot ding presies waar mens sit by so ’n wedstryd. Maandag vroeg loop ek ’n vriend van my raak. Hy sê nee Barentino, my span het verloor man (hy is ’n groot Pirates man). Ek sê ja, ek was daar. Was jy ook daar? Ja, sê hy, hy was daar. En hy vra, nou waar het jy gesit, by die Celtics of by die Pirates? Ek sê nee, ek het by my vriende gesit saam met wie ek gegaan het, en hulle is Celtics-ondersteuners, so ek het by die Celtics gesit. Toe daal daar so stilte neer soos hy die saak verwerk.
Maar uiteindelik is als in ’n goeie gees. Nes die gees wat ek op daardie stadion beleef het. Ek was skepties oor die sokker. Mens hoor soveel stories. Sommige rugbyliefhebbers is gou om sokkerondersteuners as ‘barbare’ te tipeer wat mekaar net vertrap. Ek dink veral ook aan ’n film soos Green Street Hooligans, wat mens waarlik met ’n skewe beeld kan laat.
As daar enige twyfel by my bestaan het oor “’n dag by die sokker”, dan is dit hierdie naweek weerlê.
Ek sal beslis weer gaan.
- Hierdie is een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.