Só sal veldslag-projek werk
deur Ruurd van der Wal
2010-08-26 12:12
Ruurd van der Wal het vir ons hierdie inligting oor die Rapportryerskorps se opkomende veldslagnabootsing naby Rustenburg gestuur. Hoe voel jy oor sulke aksies? Gesels saam in die kommentaar-blok aan die einde van die artikel.
Die Erfenisprojek Moedwilslag, Rapportryerskorps Boekenhout (Rustenburg)
Wat wil ons bereik deur hierdie projek?
Dit is uiters belangrik dat die jeug in Suid Afrika die volle geskiedenis van ons land moet weet. Vir ons om saam met mekaar te leef is dit belangrik om mekaar te verstaan en te weet waar jy vandaan kom. In die geskiedenis lê die geheime van ‘n volk of ‘n persoon se persoonlikheid. As jy nie jou volk se geskiedenis ken nie sal jou trots en jou siening van wie jy is en wat jy moet doen verdraai wees. Deesdae voel ons dat daar nie genoegsame inligting aan ons leerlinge gegee word oor die Afrikanergeskiedenis nie.
Deur middel van hierdie projek wou ons iets van ons Afrikanergeskiedenis vir die jeug leer.
Wat het ons gedoen?
Ons het die laerskole in Rustenburg genader en hulle uitgenooi om op die plaas van Mnr Gerrit Lombaard, waar ‘n deel van die slag van Moedwil plaasgevind het, te gaan uitkamp. Die landsdiens beweging van hierdie skole het die kampnaweek as een van hulle uitstappies aangebied.
Sodoende het ons +- 100 kinders kon bereik.
Die Vrydagaand het ons ‘n kort voordrag oor die Boere-oorlog in sy geheel aan hulle aangebied en daarna het ons ‘n dokumentêre DVD oor Generaal de la Rey aan hulle gewys.
Die volgende dag het ons die veldslag nageboots met +- 40 mans (waaronder van die jong seuns ook deel was), drie Britse tente en een kanon. Oorspronklike gewere met loskruit en ontploffings is gebruik.
Mnr Niels Ericson, die eienaar van die plaas waar van die Britse gesneuweldes begrawe is, het die kinders en belangstellendes na die grafte geneem.
Dit was vir almal ‘n onvergeetlike ervaring.
Hoekom De la Rey?
Dit was ‘n maklike konneksie wat ons kon maak met die jeug weens die gewilde liedjie “De La Rey – De la Rey” en vir die feit dat die Generaal de La Rey die aanvoerder was van die Boere in die slag van Moedwil.
Wat het gebeur tydens die slag van Moedwil?
Dit het plaasgevind op 30 September 1901.
Die tekort aan ammunisie en lewensmiddele het die boere onder leiding van Generaal de La Rey genoodsaak om met +- 300 boere die 900 gewapende soldate, drie 15 pond kanonne, ‘n pom-pom en een masjiengeweer, van Kolonel R.G. Kekewich, aan te val om beslag te lê op hierdie voorrade. Weens die verskroeide-aarde-beleid het die boere nie ‘n ander keuse gehad om baie waaghalsige annvalle te loots nie. Generaal De La Rey was egter ‘n meesterlike Boereleier en die manne onder sy bevel het hom sonder aarseling gevolg.
Kolonel Kekewich het sy kamp opgestel op ‘n hoogte langs die Selonsrivier +-34 KM vanaf Rustenburg op die Rustenburg Swartruggens pad.
Net na middernag, nadat Generaal De La Rey die manne toegespreek het, gebid het en ‘n psalm gesing het, het die boere die kamp bekruip deur al langs die rivier te verspei. Die boere is in drie seksies opgedeel om die kamp van drie verskillende rigtings gelyktydig aan te val.
Die eerste skote het om 04:40 geklap toe ‘n Britse patrollie een van die boereaanvalseksies verras het. Die middelste seksie het dadelik aangeval en van die Britse wagsposte is gou omsingel en oorrompel. Die boere het die rivieroewer gou oorgeneem vanwaar hulle dodelike vuur op die Britse kamp gelewer het. Die tente en manskappe was ‘n maklike teiken vir die boere aangesien hulle teen die oggendson ‘n duidelike silhoeët gevorm het. Die Britse offisiere het egter kopgehou en hul sodate beveel om laer af in die gras te gaan lê om vuurlinies te vorm.
As dit nie was vir die Britse patrollie wat die boere verras het nie, sou die boere baie nader aan die kamp kon kom om sodoende die kanonne en masjiengewere te neutraliseer. Met die wapens uit die weg, sou ‘n stormloop op die kamp selfs baie meer effektief gewees het. Baie van die kanonbemanning is egter raakgeskiet en selfs uitgewis, maar die skote van die kanonne en masjiengeweer was net genoeg om die soldate tyd te gee om vuurlinies daar te stel om die boereaanval terug te laat val.
Die vlankaanvalle, van die boere, het nog nie stelling ingeneem toe die aanval begin het nie. Die volle mag van die boere kon dus nie gelyk aanval nie. Teen die tyd het die son opgekom en kon die Britte sien hoe min die getalle van die boere was. Van die boere wat op hierdie stadium die kamp wou bestorm is dadelik raakgeskiet. Die boere se ammunisie het ook begin opraak en was enige stormloop, op hierdie stadium, onmoontlik. Die Britte het ‘n teenaanval geloots op die linkervlank van die boerelinie en was die boere in gevaar om omsingel te word en hulle ontsnaproetes te verloor. Teen die tyd toe die Britte met hul teenaanval begin, was die ammunisie van die boere gedaan. Hand-tot-hand-gevegte het plaasgevind in die rivierloop en party boere is deur bajonette steke gedood.
Die boere het stelselmatig begin terugval.
Volgens die Britse verslae is 67 050 kleingeweer rondtes, 117 skapnelrondtes en 800 Maxim Masjiengeweer rondtes afgevuur.
61 Britse soldate het gesneuwel.
131 Britse soldate gewond.
51 Britse soldate is begrawe op die plaas waar die slagveld plaasgevind het.
Aan die boerekant het 11 gesneuwel en 32 gewond.
Die Britte het ‘n bloedneus gekry, maar die Boere kon nie daarin slaag om hul doelwit te bereik nie.
Hierdie was een van daardie min veldslae waar daar nie ‘n wenner uitgewys kon word nie.
2010?
Hierdie jaar gaan ons die projek nog groter maak. Die Landsdiens, die Voortrekkers, die Jagtersvereniging, die SA Vroue Landbou-unie en die boerevereniging gaan ook deel wees. Die publiek word hartlik uitgenooi om die middag saam met ons te geniet. Na die tyd wil ons ‘n groot boeredans hou en lekker kuier en braai om groot vure. Toegang is gratis. Almal word vriendelik uitgenooi om ‘n donasie te gee indien hulle so voel om ons kostes te dek, aangesien ons nie die kostes wil verhaal van die kinders nie.
Dit sal plaasvind op 18 September om 14:00 op die plaas van Gerrit Lombaard. As mens op die N4 in die rigting van Swartruggens ry, draai jy met die eerste Watervalafrit reg af. Die eerste afrit dan weer regs. Daar sal aanwysings wees.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.