Die dromende jongman van die Most Amazing Merrigold Hotel-fliek sê alles werk op die ou einde reg uit en as dit nog nie reg uitgewerk het nie, is dit doodeenvoedig nog nie die einde nie.
Die fliek laat my op die ou einde met ‘n baie positiewe gevoel. Anna Miller Tiedeman, ‘n beroepsielkunde professor, sê ons moet die lewe en loopbaan as een beskou en streef na ‘n toestand van "flow" waarin ons toelaat dat die lewe reg uitwerk ongeag (of juis as gevolg van) ons besluite en ervarings van die verlede.
Sy moedig ons dan ook aan om eerder te dink in terme van regs en links draaie, eerder as regte en verkeerde besluite. Dit is immers September en jy is nou hier. Met ander woorde jou skoolloopbaan het op die ou einde reg uitgewerk en jou matriekjaar is goed op pad om reg uit te werk...
Die bepalende Junie-eksamen en interskole is verby en matriekafskeid is aan’t gebeur. Met die gerusstellende hulp van ekstra klasse in Wiskunde en Skeinat is jy op pad na ‘n suksesvolle matriekeindeksamen... Nou nog net vir die lastigheid om jou planne vir volgende jaar (en die drie-vier jaar daarna?) die amptelike stempel van goedkeuring te gee. Aanlegtoetsresultate geinterpreteer deur ‘n beroepsielkundige met ekspertstatus verwerf deur die "grape vine" van verlede jaar se matriekma’s?
Dis nou juis waar die ‘flow’ beginsel in die stroomversnellings van keerdatums, toelatingsvereistes en keuring, normtoetse, beurse en lenings, kampuskoors, plek in ‘n koshuis ens. beland.
Jy het ‘n paar opsies in jou kop, tussen jou maats en teenoor die voorligter/ juffrou by die skool rond gegooi en jou familie het dit reeds met oorgawe as jou onomkeerbare identiteit aan almal in die straat, kerk, by die werk en skool verkoop?
Steeds hier en daar verweefd met jou maats se aspirasies en invloed en die beloftes van ‘n gedeelde woonstel op kampus of selfs ‘n karretjie laat jy jou meesleur in ‘n R60 000-per-jaar-Shambok- stroomversnelling? Terloops, daardie Oranjerivier-ervaring was beslis ‘n regsdraai, nè?
Jammer daar is nêrens watervalle om te oefen nie. Die kroon op jou jarelange volgehoue topprestasie, opofferings en Sondagaand-projek-afrondings gestu deur ‘n rimpeling (of tsoenami) van skuldgevoelens oor jou ouers se tasbare beleggings in die simboliese mylpaal van hul suksesvolle ouerskap, jou loopbaankeuse? Die watervalle van realiteit word stroom af verskuif tot veel nader aan die see, die resultaat van ‘n wettige, ingeboude strewe na vryheid, onafhanklikheid en ‘n eie identiteit – in daardie volgorde van bewustelikheid. Jy is immers al 18 of hoe?
Die rivier se einde is by die see. Dis waar alles uitgewerk, gesif en gespoel lê en die water skoon en rustig oorvloei in ‘n volgende fase – die see-aftree plek. Die rivier het egter nog nooit soos nou gevloei nie. Dit kan deesdae tot 50 jaar vat tot by die mond. Dit gaan waarskynlik, selfs uit eie keuse periodes op land insluit.
Julle roei reeds op hierdie rivier van ‘n nuwe wêreld van werk waarop jy jou eie kano en nie Safe Adventures s’n sal moet gebruik. Daar is ander, maar hou liewers by jou eie selfgeboude kano of vaartuig. Hierdie nuwe wêreld van werk het al menige van die grootmense in julle kerk, straat, familie of selfs huis laat omdop, uitspoel of selfs verdrink. Die gidse (onderwysers) draai nou by die ‘mighty’ Shambok om, om die volgende groep te gaan haal. Niemand weet hoe hierdie nuwe rivier verder stroom af gaan lyk nie en min van hulle stel belang of kan tred hou met jou lewe buite hul ervaringsveld.
Die wêreld van werk wat vir julle voorpspel en beskryf word gaan gekenmerk word deur gonswoorde soos "dejobbing", "portfolio careering" en "planned happenstance". Heel gepas het ons nog nie Afrikaanse woorde hiervoor nie. Die Engelse ink is dan nog nat! Julle vaar reeds op hierdie rivier en alles sal natuurlik op die ou einde reg uitwerk, maar ons weet dat kwalifikasies sonder toepasbare witwatervaardighede, "Eskimo roll"-tegnieke – en selfs liggewig-kano's – vir die dra slag, jou mag dwing om die rivier te verlaat .
’n Lekkende of te swaar boot (te veel studieskuld) kan jou te lank op die kant hou. Die gewuif vanaf die oorkantste wal uit Aussie-, Kiwi – en Engeland het intussen ook by die jaar minder entoesiasties geraak.
As jy oor jou skouer kyk mag jy die tsoenami van drie miljoen NEETs (Not in Education, Employment or Training) sien aanrol en wonder wat die regering daaraan gaan doen. Wat gaan met almal by Shambok gebeur? Die minister sê hulle gaan sandsakke pak by Kimberley en Nelspruit en die sluise van die VOO kolleges ooptrek. "It’s a numbers game” hoor ek die hiëna honend uit die skedelkus se rigting lag.
Intussen bly die veilige opblaasboot graadkursusse met spesiale agtervoegsels BA-nie-sonder-Sielkunde en B.Rek Forensies steeds gewilde draers van ambsieuse jong skoolverlaters se drome van ‘n see net anderkant Shambok. Opnames toon hulle is veel meer positief oor die toekoms as hulle NEET-broers en susters gemiddeld vyf jaar ouer as hulle. Die impak van ‘n droeë rivierbedding of waterval of twee net anderkant Shambok?
Weerloos gelaat deur ‘n gebrek aan rivierwysheid (kennis van die moderne ekonomie), emosionele intelligensie, verkoopbare vaardighede op die droë alleengrondpaaie van die kleinsake-wereld of sonder oorlewingsvaardighede langs die wildspaaie van die informele sektor, kan om die minste te sê na verraad voel.
Meneer, mevrou, onthou jy hoeveel moeite daar gedoen is om te verseker dat boet of sus skoolgereed is? Arbeidsterapie, spraakterapie en remediërende onderrig het gevolg en hy/sy is selfs ‘n jaar teruggehou?
Hoe lyk die vaardigheidsprofiel vir die toepaslik toegeruste skoolverlater, daardie selfde boet en sus nou 12 jaar later? Het uitkomgebaseerde onderwys ooit na hierdie konsep (reeds in die vroeë tagtigs deur Nils Lindhard gebruik) oorweeg as voertuig en struktuur vir die transisie van ouer, kind en onderwyser na hierdie nuwe wêreld van werk? Nou klink uitkomsgabaseerde onderwys skielik soos beroepsopvoeding sonder ‘n toekomsprentjie.
Het die onderwyskundiges dit dalk by die ekonome gaan haal wat dit toe reeds so akkuraat voorspel en beskryf het en waarheen is dit nou? Sou beroepsopvoeding op laerskoolvlak (graad 6-7) konsepte soos die relatiewe aard van werkloosheid, lewenslange leer, die kreatiewe rangskikking en manipulering van vaardighede (ter verduideliking van dejobbing) en die onbekostigbaarheid en konformering aan groepsdruk kon vaslê en internaliseer voordat die kompliserende fisieke en emosionele faktore geassosieer met adolessensie intree? Sou "job clubs" hierdie rol kon vervul? Was ek regtig universiteitsmateriaal met 70% gemiddeld wat ‘n A vir wiskundige geletterdheid en lewensorientering ingesluit het? Was die universiteit ‘n verantwoordelike kursusbemarker?
Sou beroepsopvoeding as vak net so maklik wees om deur te kom as dit aspekte van die toepaslike chaos en kompleksiteitsteorie sou insluit, ghoeroes soos Peters, Handy, Rifkin, Bridges en ander se werk krities sou evalueer, insig in veranderde loopbaanpatrone in terme soos "protean", "boundaryless" en "portfolio careering" insluit en "dejobbing" se oorsprong in globalisering en tegnologiese ontwikkeling sou uitlig?
Watter interessante debatte sou Anna Miller-Tiedeman se "life-as-career"- benadering, toegepas op ons Boesmans in klasverband kon ontlok nie! Sou dit help om te verstaan dat die beroepsleer metafoor wat ‘n boonste sport as geelwortel voorhou, uitgedien is en ‘n nuwe ekonomie heel logies in terme van ‘n beroepsmatriks of ‘n dosyn ander metafore, (eie aan die volle spektrum van in Suid-Afrikaanse skoolverlaters se leefwêrelde) verduidelik sou kon word?
Dink net watter nuwe wêrelde nuwe stories/ moontlikhede vir die skoolverlaters van die 90’s af kon oopmaak en sodoende die misleidende persepsie van ‘n akademiese glasplafon kon verwyder. Die huidige pogings van jeugdiges om hierdie glasplafon met geweld te versplinter hou die potensiaal in om menige belowende loopbaan effektief te stagneer.
In die University World News (volume 236) van 26 Aug 2012 skryf ene Vangelis Tsiligiris “Job markets has changed, but universities still pump out graduates” is dit moontlik dat indiensneembaarheid (gegradueerdheid) en werklike indiensname, vir die afsienbare toekoms, so ver van mekaar af verwyder kan wees bloot as gevolg van die persepsie in die finansiële markte? Praat die mense verantwoordelik vir die implementering van ekonomiese en hoër onderwysbeleid met mekaar? Kry hulle dieselfde antwoord op die optelsom van studentbelegging en studentverwagting?
Wie onthou die naam van die Marokkaanse nagraadsestudent wat homself in die openbaar aan die brand gesteek het as protes teen werkloosheid? As die verwerwing van ‘n vaardigheid deur ‘n sekere houding of motivering vooraf gegaan word, sou beroepsopvoeding ‘n verskil gemaak het in die gemiddelde NEET se gehardheid, voorbereidheid en gevoel van bevoegdheid (self efficacy) in sy/ haar hantering van die watervalle en droë rivierbeddings onderkant die Shambok?
As ons aanvaar dat dit te laat is om vanjaar se 600 000 skoolverlaters toe te rus met die nodige houdings en vaardighede, wat word beplan vir Kimberley en Nelspruit se eerste inname van 2014? Is ons reeds besig om ‘n "Think global , act local" of Dink Vasteland (Afrika) en nie Tuisland-mentaliteit te onderrig? Aanvaar ons dat hiedie bemagtiging nie uit die reeds erg vervreemde, administratief oorlaaide en gedemotiveerde onderwyskorps gegenereer gaan word nie? Deel u my vermoede dat ‘n beduidende persentasie van hulle weereens gaan migreer na die beloofde land van werksekerheid in VOO kolleges en sodoende net die stoele op die metaforiese dek gaan rondskuif?
Mnr. Basson, hoe verskil die seuns en dogters van u werknemers in die 16 Afrikalande waarin julle gevestig is, met betrekking tot aspekte soos volwassenheid en gereedheid vir indiensname? Wat sou ons jongmense daar kon gaan leer en hoe sou blootstelling ons skoolverlaters se horisonne kon verbreed? U onthou sekerlik die storietjie van die skoenbemarker in Afrika?
Is daar sakemanne daar buite wat besef dat ons die punt bereik het waarop ons nie vir regering(s) kan wag om die gety te keer nie? Sou die borg van ‘n individuele "job club" of loopbaan-kollaboratorium geassosieer met elke skool in ‘n dorp met die beroepsopvoeding van NEETs geen bemarking sin maak nie? Sien u enige voordele in die uitruiling van inligting en rotasie van lede van genoemde klubs oor die grense van dorpe, streke (of provinsies) en landsgrense? Kan u u voorstel dat sulke klubs sou kon dien as bron van ‘n gevoel van behoort, veiligheid en bemagtiging in bepaalde skoolgemeenskappe, terwyl dit u produk bemark?
Die Nandos NEETs, Shoprite, Brights of Robertson’s Hoods sou kon tender vir bewaringsprojekte, skoonmaak en sekuriteitsdienste, onderhoudsdienste, bemarking by verkeersligte, verskaffers van gekeurde au pair-dienste of reserwe poelwerkers oor naweke en na-ure op ‘n verskeidenheid van vlakke. Sal dit nodig wees om hulle te herinner waar hul rugbytruie, T-hemde en kollaboratorium bestuur se toelaes vandaan kom? Deur jaarliks ‘n produk te lewer, ‘n geleentheid te reel of leermateriaal vir die beroepsopvoeding in die skool waaruit hulle kom te verskaf, skep die geleentheid om ‘n bewustheid van die interafhanklikheid tussen toekomstige werker, gemeenskap en werkgewer te kweek.
Wat van net hand bysit om die navorsing te doen om ‘n lewendige TTS (Toepaslik Toegeruste Skoolverlater) –vaardigheidsprofiel met ruimte vir streeksvariasies te skep. Gaan dit nog die regering se probleem wees as u om veiligheidsredes nie meer kan besigheid doen in die straat waarin u werksplek nou is nie? Stem u minstens saam dat elkeen wat die groeiende polarisasie en werkloosheid in ons land aan iemand anders oorlaat dit nou op eie risiko doen?
Skoolverlaters, jammer vir die onderbreking. Hier by die mond van die tregter (is dit nou amptelik die bruggie by Coetzenburg?) wil ek tog, om Lukas Maree se woorde te gebruik, vra dat julle en julle ouers julle sal verbeel julle is bang...
Bly gerus bang totdat alles uitwerk, maar veral van nou af tot jy klaar geswot het. Bang dat jy sal terugval in die gemaksones van eksamenafgerigtheid, deurkom-ambisie en kwalifikasies-bo-alles-strewe, ‘n werksoekmentaliteit en ‘n toppos as eindbestemmingdroom. Wees veral bang vir ‘n loopbaan-vir-‘n-leeftyd verwagting-op dieselfde twee spore met jou oorspronklike kwalifikasie as stoomlokomotief dryfkrag tot op die einde.
So sal die einde met alles uitgewerk jou bly ontwyk en jy sal jouself weer en weer moet herdefinieer, of ‘n vroeeë vlug haal die see in. Ek het vergeet, daar is nog die woestyn...
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.