‘Reuse-uitdaging wag op Meyer’
deur Simon Riekert
2012-01-24 07:00
Ek lees die naweek dat Heyneke Meyer die volgende Bok-afrigter is en dat dit ’n kwessie van formaliteit is dat sy naam Vrydag aangekondig gaan word.
Dit, ten spyte van ander “rumours” soos Divvie se voortgesette dienskontrak, Gert Smal wat vashaak met sy kontrak en Alistair wat finaal uit die aanloop is...
Vrydag-middag terwyl ek foto’s neem by die Bulls se oefening op Loftus, was dit een van die gedagtes wat deur my kop gemaal het; sê nou maar net Heyneke maak dit – gaan die Bulls sy afwesigheid kan verwerk? Wat lê vir hom voor as Bok-afrigter?
Sondag wag Flip vir my in die voorportaal na die kerkdiens.
“Het jy gesien wie het agter ons gesit?”
“Ja”, sê ek, “Naas Botha en sy twee dogters”.
“Ja, jislaaik”, sê Flip, “dit moet ’n voorbode wees”!
Vanoggend het ek rede om verder te wonder oor die toekoms van die Bulls en Blou Bulle, nadat ek die koerante, webwerwe en Flip se “voorbode” nabetrag.
Kom ons wees eerlik, Meyer het van die Bulle die empire gemaak wat WP graag nou nog sou wou wees. Daar is nie ’n speler wat weet hoe Meyer kan identifiseer, ontwikkel en motiveer nie.
Soos die webwerf "Ruggaworld" dit uitspel, net hy en Robbie Deans het ’n bloudruk kon uitwerk vir ’n Superfranchise-span wat dit jaar na jaar suksesvol herhaal.
Hy het sy tyd as assistent gehad op internasionale vlak, maar die rol van hoofafrigter is uniek, eietyds en onvergeeflik as jy misluk.
Dit moet een van die mees polities uitmergelende jobs wees wat jy kan doen. Soos een skrywer dit noem, “the job is like a poisoned chalice”.
Dis nou tyd vir herbeplanning met manne wie by die oefengroep opdaag na ’n harde Super-reeks. Waar hy as Direkteur van Rugby die kitaar kon slaan oor administrasie van sy spelers, moet hy inval by ‘n groep ongeduldige en onvergewensgesinde lede van die publiek en media. Manne wat hul eie en hul unies se belang op die Bokraad dien, gaan voor in die koor staan.
Ek twyfel nie een oomblik dat hy die uitdaging te bowe gaan kom nie, maar ek wonder oor hom (soos oor Rassie) se tydigheid. Geen nuwe BMW of onthaaltoelae kan opmaak vir die dag wanneer jy besluit het ek is “gatvol” nie.
’n Mens kan ook nie ophou wonder oor sy en Gert Smal se onderskeie redes om, ten spyte van die feit dat hul al voorheen deur die “Blazer Brigade” in die bek geskop is, nog steeds saam met hulle wil werk nie.
Maar dis dalk waar ek Heyneke Meyer totaal misverstaan.
Dis die man wat al tydens ’n perskonferensie, nadat die Bulle hul koppe elders wou indruk, die media koel en kalm gerus gestel het dat hy en sy spelers ’n plan het. En die plan het hy tot groot sukses uitgevoer, ten spyte van die druk rondom hom en in sy eie geledere.
Miskien is dit juis wat mense soos Smal en Meyer laat “tiek” – die onverwagse, die druk, die onsekerheid, die uitdaging.
Want vir Meyer is dit sekerlik ‘n reuse-uitdaging. Om die Springbokke weer die kampioenspan te maak wat hulle was, gaan geen maklike taak wees terwyl die ANC in jou nek blaas nie.
Ek hoop hy laat dieselfde bloudruk agter by die Bulls en net so baie soos ek hom gaan mis by Loftus, so graag gun ek hom en die Springbokke die geleentheid om uit die as op te staan.
Vir Frans, Pine en hul mede-afrigters lê daar ná Vrydag, 27 Januarie 2012 dalk ’n verrassende wending voor en soos die Bulls tans oefen en lyk, kan hul net weer daardie verlore glorie herwin.
Miskien was Flip Sondag reg, Naas se teenwoordigheid was dalk ’n voorbode.
Net die tyd sal leer.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.