Hoe kry iemand wat R1 200 toelaag by die regering dit reg om te oorleef?
Dit is met skok dat ek gisteraand R9.69 vir ‘n bruin brood betaal het. En nee, dit was nie ‘n fancy brood nie, dit was dood eenvoudige Albany brood. En nee, dit was nie by die fancy swart winkel nie; dit was by die ekonomiese rooi winkel.
Indien brood jou stapelvoedsel is en jy ‘n gesin van ten minste ses mense daarop moet voed, sou ek sê dat jy ten minste twee brode ‘n dag moet koop. Dit beteken R20 ‘n dag! Maal dit met vyf dae in ‘n week en jy kry R100 wat dan weer vermenigvuldig moet word met vier weke, en dit is R400 ‘n maand net vir brood!
Dit is met skok dat ek besef het dat my elektrisiteitsrekening in die byna sewe jaar sedert ek by my huidige adres bly byna met 300% verhoog het. Ons het elke keer net die rekening betaal en dit nooit bevraagteken nie. En nou wil Eskom weer ‘n verhoging van 16% vir die volgende vyf jaar aanvra. Ek voorsien dat my kragrekening dan hoër as my verband sal wees. Ek sal ‘n dak oor my kop kan bekostig, maar beslis een waar geen ligte aan is nie.
Wanneer sal ons Suid-Afrikaners begin besef dit is krisis-tyd, dat dit tyd is vir burgerlike protes? Dit het beslis die Mosambiekse regering in 2010 laat regop sit toe inwoners van Maputo ‘n staking uitgeroep het teen die stygende energie, water, taxi en brood pryse.
Of is ons nog in ‘n gemaksone waar ons net ‘n bietjie moet afskaal? Waar ons nog slegs krisisbeheer moet toe pas. Net oorskakel van een winkelgroep na ‘n ander; slegs my brand moet verander na die goedkoper een? Waar ons ten minste een keer ‘n week wegneem-etes kon geniet, dit nou slegs een keer ‘n maand te doen? Lindt-sjokolade sal moet plek maak vir die een wat afgemerk is?
Ek begin agterkom dat selfs my goedkoop-ontspanning beïnvloed word. Ek klim nie meer so maklik in my motor om in die Botaniese Tuine (wat nie eers 10 km van my huis af is nie) te gaan stap nie, want dit kos al reeds byna R3 500 ‘n maand om twee motors aan die loop te hou om elkeen van ‘n gesin van vyf by hul onderskeie werke en skole te kry.
Wat my laat dink, hoekom kla ek, ons het dan twee ry-goed! Maar soos dinge nou gaan, sal ons binnekort ook daar moet afskaal en net vroeër in die oggend met ons rondtes begin, want dit sal nog goedkoper wees as dat elkeen van ons van openbare vervoer moet gebruik maak.
Dit is nou as ek nie my voet gaan neersit en begin staak nie, want so kan dinge nie aangaan nie!
- Hierdie het op Danielle Wass se blog verskyn
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.