Laat ek dit duidelik stel: As jy my vra, is die grootste tikkende tydbom in ons land nie die moontlike waterkrisis of selfs die grondkwessie nie – dit is ons onderwysstelsel.
Die skeptiese ontvangs van gister se nuus oor die verbetering in matriekuitslae sê baie oor die algemene gevoel oor opvoeding in ons land. Dit sê vir my daar heers 'n algemene gevoel dat ons besig is om te verloor in hierdie opsig.
Suid-Afrika is een van die lande in die wêreld wat die grootste persentasie van sy begroting aan onderwys bestee; tog kry ons van die swakste resultate.
Die rede is vir my presies dieselfde een wat ons polisiediens so swak en korrup maak: Die mense wat die werk moet doen, beskou dit nie as hulle roeping nie, maar net as nog 'n werk.
Om in die onderwys te wees, moet spruit vanuit 'n absolute begeerte om 'n positiewe impak op kinders te maak. Dis die enigste manier hoe jy dit ooit in daardie beroep sal maak.
Wat ons egter op die oomblik sien is onderwysers wat nooit opdaag vir klas nie; onderwysers wat kinders selfs aanrand en verkrag; en onderwysers wat dronk opdaag vir klas. Waar in jou lewe het jy al ooit van so iets gehoor?
Die probleem is dat matriek nie die produk van een jaar se werk is nie. Matriek is die produk van 12 jaar se werk. As ons ons kinders vir 11 jaar oorlaat aan patetiese personeel wat nie eers self behoorlike dissipline het nie, kan ons nie verwag dat hulle skielik in hulle matriekjaar moet presteer nie.
Laat ons nou maar almal eerlik wees: Ons almal weet die "verhoging" in die matriekslaagsyfer is vir alle praktiese doeleindes net 'n klug. Dis duidelik dat daar iets baie ernstigs skort in ons skoolstelsel.
En wat uit die skole kom is die toekoms van ons land. Dit behoort ons almal baie, baie, baie bekommerd te maak.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.