Ek wil, as ’n eks-roker, graag reageer op Hannes du Preez se skrywe, ‘Nie alle rokers is dieselfde’.
Hannes, ek ken jou nie, maar ek is jammer om te hoor jy rook. Om te rook is absolute hel. Ek onthou nog my eie rokersdae so goed. Die koue oggende alleen buite. In die wind. Die reën.
My ma sou my nooit ooit toegelaat het om in haar huis te rook nie. So ek moes altyd vroeg uit die vere om buite te gaan rook.
En dan die kort asem. Die hoesbuie. Die gesukkel om die trappe uit te klim. Die duur sigarette. Die kyke van nie-rokers. Predikers wat vir jou sê, die Here kan genees meneer van der Merwe...
Ek betwyfel die stelling dat rook nie ’n gevaar is vir padgebruikers nie. En ek praat uit ondervinding. Ek is ’n bietjie van ’n lomp man. En toe ek gerook het, het dit ’n hele paar keer gebeur dat ek die brandende sigaret laat val het terwyl ek bestuur. En ek kan getuig, so sigaret wat iewers onder op jou skoot of elders lê het die manier om jou aandag van die pad af te kry.
En nou sal daar rokers wees wat sê ja, maar ék rook en bestuur nie. Dit mag so wees. Ek glo daar is mense wat nie sal rook en bestuur nie en ek het die grootste respek en dankbaarheid daarvoor. Maar my vraag is, vir hoe lank? Wat as daar ’n dag kom, net een dag, wat jou drange so groot gaan wees dat jy hierdie reël ignoreer? Dalk die dag wat jou baas jou skel, of jou vrou...
En ja, jy mag dalk nie so lomp mens wees soos ek nie. Jy mag dalk nie sigarette laat val nie. Maar, tot op ’n goeie dag...
Ek het die grootste simpatie met rokers. Ek was self daar. Ek het geen einde in sig gehad nie. Ek het gerook en gerook en gerook. Ek was die een wat soos die bekende Amerikaanse TV-persoonlikheid Larry King was – ek sou tot onder die stort rook.
Dit is ’n ou streep van rokers wanneer hulle die rookgewoonte probeer rasionaliseer, deur te argumenteer dat drinkers eintlik erger is. Dit is so menslik om só te dink en redeneer. Die skrywer van die boek Genesis het selfs hierdie eienskap van die mens geken. Blameer almal behalwe jouself.
Jy sien Hannes, ek is eintlik baie soos jy uiteindelik. Jý probeer jou rookgewoonte rasionaliseer. En ek probeer my weersin in rook rasionaliseer. Ek rook nie, daarom is dit vir my maklik om my weersin in rook te rasionaliseer. En jy rook, en daarom is dit maklik om jou weersin in mense wat ’n weersin in rook het te rasionaliseer.
Jy moet my maar verskoon dus. En ek sal jou verskoon so ver moontlik. Ons kan baie lank praat ek en jy. Lang stories. Oor rook en nie-rook. Maar ná alles sal ek steeds die volgende standpunt huldig:
Géén mens op aarde behoort te rook nie.
Maar Hannes, asseblief. Ek twyfel of jy ’n moordenaar is. Jy klink na ’n aangename mens. Die soort wat ek graag in my rooksirkel sou verwelkom het.
Ek verwerp die stelling dat rokers soos jy ‘moordenaars’ is. Maar dat julle ’n gevaar is vir almal, wil jy hierdie feit régtig ontken Hannes? Wil jy régtig ontken hoe jou rookgewoonte ’n swak voorbeeld is vir jongmense?
Dalk is jy nie self ’n gevaar op die pad nie. Maar die volgende roker mag net dalk wees. En rook is aansteeklik Hannes. Ek self het die gewoonte aangeleer by ’n ander roker.
Dink asseblief weer aan my woorde as jy weer opsteek.
Sterkte.
Barend.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.